André onthou vir Oupa Zack (2)

Ek kan niks onthou van oupa se kinderdae nie. Ek neem aan dat julle dit by pa gehoor het, maar ek kan dit nie onthou nie.
My vroegste herinnering van oupa was op die plaas by Potchefstroom. Stop my maar as julle al dié een gehoor het. (dis vrek koud hier vemôre – my sleutelbord se sleutels haak vas.)

Ewentwil, ek onthou dat oupa besig was om die sinkdam op die plaas reg te maak. Die sink het gaaitjies gehad wat lek en oupa het die gaaitjies een vir een toegestop, met ek kan nie onthou wat nie, putty? Ek en oupa het op ons hurke langs die dam gesit. Ek moes hom “help”. Kan nie onthou of ek al op skool was nie. Shani miskien kan jy onthou wanneer dit was dat ons kinders vir ‘n paar dae by hulle op die plaas gekuier het.
Ek het die “putty” vasgehou en moes vir hom elke keer ‘n stukkie afbreek en aangee sodat hy die gaaitjie kon toestop. So het ons al hurkend om die dam beweeg. Verbeel my die dam het langs ‘n doringboom gestaan wat skaduwee oor ons gegooi het.
Op ‘n punt toe ek weer vir oupa ‘n stukkie moes aangee, sien ek hier teen die sink sit ‘n mooi stukkie – wetie wat ek gedink het nie, maar ek haal die stukkie van die sink af en gee dit vir oupa aan. Sjoe, maar het oupa hom vir my vererg!  Ek het toe mooi ‘n gaaitjie wat hy reeds reggemaak het, weer oopgemaak.
Oupa was baie vies vir my en het my gesê ek pla hom net en ek moet liewers teruggaan huistoe!
Vandaar het ek die indruk gekry dat oupa maar ‘n norserige man was en nie baie kindervriendelik nie. Ek was baie versigtig vir hom. Hy het ook nooit veel gepraat nie.

4 thoughts on “André onthou vir Oupa Zack (2)

  1. Die storie van die volstruiseier het ek by Oupa self gehoor. Dit was dalk in die tyd dat hulle in Welgedag gebly het, want ek was al bietjie ouer.

    Toe Oupa en Ouma op die plaas gebly het was ons nog redelik jonk, ek vermoed dit sou gewees het voor jy skool toe gegaan het, André. Ek onthou van ‘n keer wat ek alleen op die plaas gekuier het, maar ek kan nie onthou van ‘n tyd dat die twee van ons saam op die plaas gekuier het nie. Hene, ouderdom.

    Ek onthou ook ‘n doringboom langs die dam maar dit het darem net oor ‘n deel van die damwal gehang. Dit was ook nie ‘n wal nie, want dit was van sink soos jy onthou het.

  2. André se kommentaar:

    Ek onthou van oupa Zack terwyl hulle in Welgedag gebly het in een van daardie huisies aan die linkerkant van die pad. Op die plek wt oom Ben daar gekoop het. Niel hulle het oorkant die straat in daai groot ou mynkantore gebly.

    Daar waar oupa en ouma gebly het, was ‘n paar kleiner huisies (woonstelle?) agert groot privet heinings.

    Ek en oupa het buite in die sonnetjie gesit onder die kaal prieel. Oupa op ‘n kombuisstoel en ek op die grond voor hom. Oupa wa besig om riempies te sny uit ‘n klein Steenbok velletjie. Met sy Joseph Rodgers knipmes. Oupa het die mes op die sool van sy skoen gestrop en dan dun (baie dun) riempies gesny. Ek moes die een kant van die velletjie vashou en oupa sny met die mes so van onder af. Hy trek die mes na hom toe.
    Netjiese dun, egalige riempies, sonder om eenkeer te glip of ‘n hap te sny. As ek reg onthou, sou oupa die riempies gebruik om velskoene mee aanmekaar te werk.

    Ek was geweldig beïndruk met oupa se behendigheid. Jare later het ek self probeer om sulke mooi dun riempies te sny. Wat ‘n gesukkel! Dit was soveel makliker om klaar gesnyde riempies te koop of om eerder dik gare vir die stikwerk te gebruik.

    Oupa het gesê ‘n Steenbokvelletjie was net die regte soort leer om vir die riempies te gebruik. Die velletjie was dun maar tog baie sterk. Lekker sag gebrei. Wonder nou waar het oupa die velletjie gekry.

    1. Oupa het ook vrugte so geskil. Ek onthou op die agterstoep van die plaas het Pa my eenkeer attent gemaak daarop dat ek Oupa moet dophou terwyl hy ‘n appel of iets geskil het, als aaneen in een lang skil. Maar ander vrugte ook, geel perskes .

  3. Ek het Oupa en Ouma goed leer ken toe hulle by ons gebly het in Linden Uitbreiding. Tannie Hanna het ook nog daar gebly voordat sy getroud is. Oupa en Ouma het baie mooi en sag met mekaar gepraat -dit onthou ek baie goed. Vir middag ete het oupa altyd die oorskiet van die vorige aand se ete ge-eet. Hy het die koue groente en vleis netjie gesny en as hy klaar was, was die bord silwer skoon -hy het elke morsel ge-eet. Elke aan na die huisgodsdiens op die radio geluier en dan moet mens baie still wees en ook luister.Oupa het vir ons ‘n groot duiwehok gebou wat op ‘n paal gestaan het en ook’ n karretjie. Ook b\’n hoe stoel wat my ma nog het. Hy het ‘n donker groen Loyd karretjie gery,
    Ons was op die plaas toe hulle laat weet het Oupa is dood.Hy was die een een wat ek geken het wat oorlede is Dit was vir my skokkend om te dink hy is dood.Ek onthou toe ons uit die kerk kom toe Ouma -tussen Tannie Hanna en Miemie-omdraai om agter die kis uit te loop het sy so ‘n harde snik gegee- wat my geskok het .Sy het nooit emosie gewys nie .Sy het ‘n swart pakkie aangehad met ‘n groot fur kraag – ek was nogal baie impressed want die fur was baie grand!
    Ek was maar ‘n weird kind met my musiek en dinge .Hy kon my nie uitwerk nie maar hy was altyd baie mooi met my .

Leave a Reply

Your email address will not be published.