Foto: Pa, 1952
Ek wou al lankal gehad het ons ouers en ooms en tannies moet hulle stories neerskryf veral oupa Zack se stories. Ons weet ietsie van Ouma Kitty se jong dae want daar is daarvan gepen maar Oupa s’n nie. Ek wil vertel wat ek onthou en dan kan julle bylas.
In die kolonie het oupa saam met maats voëltjies gevang en dit gaar gemaak. Ek kan nie onthou hoe hulle die voëltjies gevang het nie, maak ook nie saak nie. Daar het ‘n klompie Engelse seuns probeer maats maak en wou ook voëltjies eet. Oupa-hulle het toe veldmuise of rotte gevang, die gaar gemaak en aan die Engelse seuns voorgesit as gaar voëls.
Die ander een is waar hy, ook in die Karoo, met ‘n splinternuwe hoed op met ‘n volstruis eier gespeel het. Die eier het hy vir een of ander rede in die lug gegooi en dit het kardoems op sy kop met sy nuwe hoed te lande gekom. Einde van die hoed.
Ek vertel baie kort maar op hierdie stadium is dit meer om die geheue te prikkel as iets anders. Ek weet ook nie of al my feite mooi reg is nie, die wat beter kan onthou kan hopelik die reg maak.
Dan is daar ons eie stories. Onthou julle daardie groot Oscar genomineerde fliek wat gemaak is waar die wrede Indiaan die gouddelwer koelbloedig vermoor het deur hom met ‘n pyl te skiet vasgemaak aan ‘n paal. Toe kom die held met ‘n glimlag van oor tot oor en skiet die Indiaan morsdood waar hy op ‘n koeldrank kissie sit en die goud bewonder het?
Ek ry baie verby Spaarwater op Nigel fabriek toe en onthou elke keer ons seiljag avonture of partykeer met daardie groot swaar “Heron” seilboot was dit anti-avonture. Daar is niks oor van enige “Seascout” boothuis of enigiets nie.
Die ander Saterdae tyd verdryf was die vliegtuigies. Die jaag agter vliegtuigies wat uit beheer geraak het met ons almal wat by vensters uithang en André voor op die bonnet en meer as een keer by ‘n paar gehuggies waar die inwoners die vliegtuigie mooi neergesit het, uitgekom het.
En die keer toe die inry se lampaal in die middel getref was.
Vir een of ander rede as ek hieraan dink, onthou ek Shani wat sit en brei boek lees en na rugby oor die draadloos in die kar luister.
Ek onthou ook as tannie Liz kom kuier het hoe sy en ma in die kombuis vir ure gelag en gesels het, soos jong meisies.
Ek gaan eers hierby volstaan, daar is nog baie ander maar sal dit bêre vir later. Die idee is om julle geheue te prikkel want ek dink dit is nodig om die stories te onthou vir ons kinders. Hulle ‘n idee te gee hoe dit daardie tyd was.