Oupa Carl

Herinneringe uit ‘n e-pos van Ma:

Ek het ‘n paar notas van my Pa geskryf, maar met al my huisskoonmakery vanoggend het ek dit verlê. Nou stuur ek maar wat ek kan onthou. My Pa was ‘n gulhartige mens, maar soos ek onthou was hy nooit ‘n mynkaptein nie. Hy het nadat hy na die myn gegaan het op die “crushers”/stampers gewerk, wat verskriklik lawaaierig was. Dit kan jy jou indink want dit is waar die klip wat van ondergrond af gebring word stukkend gestamp word. Hoe lank hy daar gewerk het weet ek nie. Ja, eers moet ek seker vertel dat hy ‘n baie ongelukkige kindertyd gehad het.  Sy pa het vroeg gesterf, weet nie hoe nie en toe moes sy ma vir hulle klompie sorg wat in daardie tyd baie moeilik was vir ‘n rou. Sy het seker maar wasgoed gedoen en my pa moes vroeg uit dieskool wat ‘n groot jammerte was want hy was baie intelligent.  Hy het vir een van die ryker ooms skape opgepas en omtrent geen vergoeding of baie min gekry Dit het hom verbittterd gemaak, nie dat hy ooit veel vertel het van sy kinderdae nie, maar hy het niks van ‘n plaas gehou nie. Sy ma het lateraan Boksburg toe getrek met hulle. As ek reg uitwerk was hulle sowat sewe of agt kinders. In Boksburg het sy oudste broer, Antonie, tragies gesterf. Skynbaar moes hy die slingel draai om water uit die put te kry toe die slinger uit sy hand gegly het en dit hom teen sy kom gekap het. Hy is oorlede daarvan.

My pa het toe op die myn gaan werk, ek dink dit was toe by die “crushers”. Na ‘n ruk is hy daar weg en het sy eie besigheid as bouaannemer begin.

Hy het baie goed daarmee gedoen en sou seker ‘n baie goeie bestaan gemaak het as die skuldenaars al hul skuld betaal het, maar dit was sy ondergang en het hom ‘n groot knou gegee. Ek is nie so seker van hierdie deel nie, maar hy moes toe seker weer op die myn gaan werk het. Hy het toe ook weer huise begin bou, een in Brakpan, ‘n baie mooi en groot huis. Hy het so aangehou met huise bou en dan weer op die myn gaan werk. Op ‘n stadium het ons op Welgedacht geland waar hy die koekepanne wat die warm kole op ‘n mynhoop moes afgooi moes beheer. Dit was ook ‘n besondere werk om dit te beheer. Alles moes baie presies wees, ek weet net my pa het baie hard daar gewerk.

Ja, ek vergeet, op ‘n stadium het hy ook beeste gehad wat onder by die pan (in Brakpan) krale gehad het. Daar het my pa die koeie laat melk sodat ons genoeg melk, botter en kaas gehad het. Natuurlik ook dikmelk. Die goed het my ma alles verwerk en ons het volop gehad daarvan. Ek was op daardie stadium redelik klein want ek kan onthou hoe ek op die ousie se rug gery het. My pa het toe ook ‘n garage gehad waar hy motorwerktuigkundige was en ook brandstof verkoop het. Nog met die ou handgedrewe handvatsel pompe.

Ek kan nie alles baie mooi onthou nie, maar my pa het agteruit geboer hoekom weet ek nie, maar op die uiteinde toe ek en pa al getroud was het dit glad nie goed met hom gegaan nie en moes hy weer na die myn.Van Selectionpark af met ‘n fiets na Oos Gedulmyn, ‘n baie lang ent en dit was ook een van die redes van sy vroeë dood. Hy het ook myntering opgedoen. En dit sover ek kan onthou was my pa,’n baie goeie, hardwerkende man wat op ‘n stadium sy eie planne getrek het vir die huise wat hy gebou het. Baie presies en baie netjies.

 

Shani onthou:

Ek het so twee herinneringe van Oupa Carl spesifiek – volgens wat ek onthou was dit een Kersfees wat ons by hulle gekuier het in die huis in Moorelaan in Selectionpark, Springs, en hy het vir ons vleis gebraai op ‘n vuur in die agterplaas. Dit was skaaptjops. Ek weet nie of dit die eerste vleisbraai was wat ek belewe het dat dit nou so ‘n indruk op my moes maak nie. Ek moes so 3 of 4 gewees het. Maar dieselfde oggend was daar ‘n muis in die huis en dit was ‘n groot doenigheid met pa en oupa om die muis uit die huis te kry – kan nie onthou hoe nie. Dalk was dit meer dit as die vleisbraai wat vasgesteek het.

Nog vroeër as dit, het oupa en ouma in Barberton gebly en ek en ma met Andre as ‘n baba het by hulle gaan kuier. Ek moes 3 jaar oud gewees het. Ons het trein gery soontoe en ek verbeel my tannie Liz en Willie was ook saam op die trein. Oupa het daardie tyd op ‘n myn in Barberton gewerk. Dit moes 1949 gewees het volgens Ma se notas.

Ek onthou Oupa hoe hy met André op sy skoot gesit en speel het, in ‘n groot ou leunstoel buite in die tuin. Ek onthou so ‘n geplaveide deel langs die huis met ‘n groot ou boom waaronder die stoel was. Hy het omgedraai met ‘n groot glimlag en my gevra of hy die baba maar kan hou; ek was nogal ongelukkig daaroor dat hy my boetie wou hou.

Maar dit is ook hoe ek hom onthou, iemand wat altyd gelag en gesels het. ‘n Joviale mens. Sy dood was die eerste dood wat ek ervaar het en dit was vir my ‘n groot skok. Voor dit glo ek nie ek het geweet wat dood beteken nie. Toe moes ek 4 jr gewees het. Hy is net na Kersfees, 26 Desember, 1950 oorlede.

Hy was oppad werk toe na die myn in Geduld, op die fiets van Selectionpark af, toe hy blykbaar (soos ek dit het) ‘n hartaanval gehad het, van sy fiets afgeval het en daar langs die pad gelê het. Iemand, ‘n vrou wat verbygery het, het hom daar gesien, en gesorg dat daar ‘n ambulans gekom het om hom te haal en hospitaal toe te neem. Van daar af het hulle ouma laat weet. Maar hy is toe daar oorlede.

Ons het die nuus daardie aand by die huis in Parkhurst gekry. Dit was ‘n naweekaand, Sondag verbeel ek my. Ons het op die stoep gesit en dit was al skemerdonker toe daar ‘n polisiewa voor die huis stop en ‘n jong outjie, ‘n konstabel, uitklim. Pa het na hom toe geloop, hom gevra of hy kan help en hy het toe die nuus vir Pa gegee wat omgedraai het om vir ons die nuus te kom gee. Tonie het by ons gekuier en hy het dadelik opgevlieg en kamer toe gehardloop en ma het agter hom aangegaan. Ons het nog nie ‘n telefoon in die huis gehad nie, daarom moes die polisie die nuus kom bring. Ons het seker net kort tevore in die huis ingetrek want later was daar tog ‘n foon.

Dit was dalk nog net na die vleisbraai in Brakpan wat ek vroeër van geskryf het. Ek weet nie.

Ander herinneringe van wat Ma my vertel het:

Oupa was ‘n groot sportman, hy het baie goed geswem (soos ook Ma het), hy het fiets gery, gholf gespeel, rugby gespeel en was ‘n goeie skut. Hy het aan Bisleys deelgeneem en daar het hy die silwerbakke waarvan ek een het en Carl ‘n ander een het, gewen.

Ouma Elsie het my ook vertel dat hy aan die mynwerkersstaking in 1914(?) deelgeneem het, dat hy in hegtenisgeneem is saam met ander en dat hy op ‘n stadium in die Ou Sentraal Gevangenis in Pretoria aangehou was. Ek dink nie dit was vir te lank nie, maar soos Ouma vertel het, het hy sy naam/voorletters daar op die muur van die sel uitgekerf.

In die tyd dat hulle in Brakpan gewoon het, het Oupa op die New State Areas myn gewerk. Seker toe dat hy met die stampers/crushers gewerk het.

En nog iets wat sy ook vertel het wat vir my snaak was maar wat vir my baie dinge verklaar het by ons Ma: Oupa Carl was erg gesteld op sindelikheid met kos en aan tafel. Hy het hom ergerlik vervies as iemand sy neus blaas aan tafel, of selfs keel skoonmaak aan tafel. Dan het hy net sy stoel teruggestoot en opgestaan en uitgeloop. Hy het ook nooit by iemand anders se huis geëet nie, net sy eie ma se huis, en natuurlik sy eie, want hy het Ouma vertrou dat sy skoon genoeg was in haar kombuis. Hy het niemand anders vertrou nie, nie eers sy eie suster nie, het Ouma met genoegdoening vertel.

Leave a Reply

Your email address will not be published.