Stories oor die Selcourt huis

 

Ons vier voor die Selcourt huis
Ons vier voor die Selcourt huis

Shani:

Ek onthou oom Smal, Thinus se pa, wat die pilaar in die sitkamer opgesit het wat die skoorsteen vir die kaggel geword het. Dit was ‘n asbespyp en dit was sy idee om dit toe te draai met tou, styf vasgedruk en die hele spul dan wit te verf.

Hy het ook die kaggel self ingesit en die leiklip daar om ingebou.   En ‘n paar leiklippe oopgekloof om die grein aan die binnekant te wys, en toe het ek boesmantekeninge op twee van hulle aangebring. Ek dink nie hy was te beïndruk met my nie.

Met die skoorsteen se opsit op die dak moes hy en pa op die dak klouter en arme pa het dit nie geniet nie. Sy hoogtevrees het dit nie waardeer nie. Pa het dit gedoen, maar hy sou verkies het om dit nie te doen nie.

 

Carl:

Oom Futter was ‘n skrynwerker en aan een hand was ‘n vinger weg, ‘n saag het dit afgevat. Soos Leon sê, hy het  die bunks in ons kamer gebou. Die skroewerdraaier storie was dat André en Leon met skroewedraaiers in die grond ingegooi het toe Leon s’n uit sy hand gegly het en in André se nek gaan vassit het.

André:

Oom Futter het ook die ingeboude kaste in ma-hulle se slaapkamer ingebou. Dit was terwyl hy daarmee besig was dat ek in die nek met die skroewedraaier gepeg was. Hy het op my gille gereageer en die skroewedraaier uitgetrek.

Besering was baie meer emosioneel as fisies. Ek’t nie – tot my groot teleurstelling –  eers ‘n merk oorgehou daarvan nie.
Ek het darem ‘n knop op my kop vir ‘n paar dae gehad van die hammer aanval. Must have addled my brains! G’n wonder lat ek nie kin so mooi lekker onthou nie.
Onthou die oom Futter met die afvinger. Hy was blas van vel en het donker hare gehad wat begin grys word het.
Ek onthou die spookstorie van ou Valentyn, die grys spook donkie, wat pa ons van vertel het. Ek dink dit was sommer ‘n storie wat pa self opgemaak het? Die details onthou ek nie meer heeltemal so goed nie, maar pa het vertel dat hy op sy fiets gery het, natuurlik deur ‘n driffie op by die begraafplaas verby of so iets. Uit die hoek van sy oog het hy iets grys gesien, maar as pa sy kop draai om te kyk is daar niks! Dit moes ou Valentyn wees! en pa het gejaag om weg te kom. Agterna merk pa daar hang ‘n garingtjie aan sy bril en dit was wat hy so uit die hoek van sy oog gesien het.
So van die seilbote gepraat, onthou julle die ‘Dabchick’. Pa het hom self gebou. Mens het bo-op die ding gesit. Amper soos ‘n groot branderplank met ‘n mas en seil. Lekker vinnig gewikkel.
Vandag nog, elke keer wanneer ek die hars van glasvesel ruik, dan dink ek aan die blou ‘Dabchick’ wat ons so met glasvesel oorgetrek en geskuur het om dit glad te kry.
 Die vliegtuigies wat pa gevlieg het, het geloop op ‘n mengsel van Ethanol en Kasterolie – as ek reg onthou. Aanvanklik het pa self die brandstof gemeng, maar later dit klaar aangemaak gekoop.

Leave a Reply

Your email address will not be published.