Van: André
Ek onthou nogal redelik die huis in Linden, Derdestraat. Het ’n ruk terug die huis in Linden gaan soek, maar kon dit glad nie kry nie. Niks daar lyk vir my bekend nie. Hulle het die erf onderverdeel, lyk my en nog ’n huis op die erf gebou, neem ek aan. Weet nie of die ou huis gesloop is nie. Ek kon nie ’n huis nommer 10 in Derdestraat kry nie.
Ek onthou dit was ’n baie groot erf en dat die erf skuins afgeloop het na die straat se kant toe. So skuins dat die fondasies aan die straat se kant van die huis baie hoog opgebou was. Mens het opgekyk na die huis toe. Huis het ver van die straat af gesit. Huis was liggeel met ’n rooi dak – of was dit nou die bure se huis?
Onder die huis, tussen die fondasies was ’n kelder. Die ingang het langs die huis gesit en die kelder was ’n baie fassinerende plek. Baie klein deurtjie wat eintlik gesluit was. Mens moes gebukkend onder die balke loop. Donker en het vol ou meubels gestaan wat die eienaar seker daar gestoor het. Was vas oortuig, iewers in die kelder was ’n ou trommel vol skatte. Goud, juwele en seerower “loot”! Maar kon dit nooit vind nie al het ons hoe hard gesoek daarna. Baie spinnerakke.
Langs die ander kant van die huis en aan die agterkant was vrugte bome. Perskes (wit perskes met rooi wange. Wit vleis en rooi om die pit), appelkose en pruime wat ons van die bome gepluk en geëet het.
Die sitkamer was die eerste vertrek aan die voorkant van die huis. In die sitkamer het ons kersfees gevier met ’n boom met versierings. Tannie Hanna het ons kinders in ’n koor laat kersliedere sing vir die grootmense. Ons het lakens aangehad om soos die wysemanne te lyk. Henry het saam met ons gesing en tannie Hanna was baie beïindruk met Henry se mooi stem. Sy musiek talent het al daar na vore gekom.
In die sitkamer het van pa se Amerikaanse vriende/kollegas ’n rewolwer geveg gehou en op mekaar begin skiet. Ons kinders het ons lam geskrik! Ek onthou ek het agter die bank ingeduik toe die skote begin klap het. Na ons oor die skok gekom het, het dit geblyk net “cap guns” te wees wat hulle toe vir ons as geskenke gegee het saam met die cowboy hoede wat hulle gedra het.
Daar was hoë trappies wat mens moes opklim om by die voordeur te kom. Die deur het glas panele gehad en een van ons – kan nie onthou of dit ek of Henry was nie, het deur die glaspanele geval om ’n klompie snymerke opgedoen. Die bloed het gevloei.
Aan die anderkant van die huis. Die linkerkant soos mens van die straat af kyk, was ’n breë stoep met ’n rooi gepoleerde sementvloer. Aan die agterkant het die stoep in ’n stoepkamer ingeloop. Ons het baie op die vloer in die stoepkamer gespeel. Verbeel my ons seuns het in die stoepkamer geslaap.
Oorkant die straat van die huis was hoë dennebome op die sypaadjie. Anderkant die bome was veld wat afgesak het na die ‘n spruit tussen die lang gras deur. Daar het ons in die aand slangetjie gespeel en swartes wat die die straat verbygeloop het, terorriseer. Ons het ’n das aan ’n swart garing oor die pad gesleep vanuit die langs gras onder die bome. Het agter die tuinmuur weggekruip.
Henry was ook saam met ons. Dink oom Freddie-hulle het die aand by ons gebraai, langs die huis onder die stoep, half aan die agterkant.
Een swarte het die das morsdood gegooi met klippe tot ons groot vermaak – en so bietjie geskrik vir hom. ’n Ander keer het ’n swartman, dalk dieselfde een wat die das met klippe gegooi het – kan nie so mooi onthou nie – ons uitgevang agter die muur en was baie ontsteld, kwaad en luiddrugtig. Moontlik goed warm. Hy het so te kere gegaan dat – as ek reg onthou – oom Freddie hom daar kom verwilder het.
Dit was die einde van ons slangetjie-slangetjie spelery.
In die huis langs ons, aan die linkerkant, het Hollanders gebly. Hulle het ’n seun gehad, bietjie ouer as Shani. Of daar ooit ’n huis aan die anderkant van ons was, kan ek glad nie onthou nie.
Ek kan ook geen van die ander vertrekke van die huis onthou nie. Net die sitkamer en die stoepkamer.
Onthou so vaagweg Linden Laerskool. Dié kon ek darem vind, maar had nie bekend gelyk nie.
Henry–hulle, het na ons in die huis gebly. Henry, dalk kan jy meer van die huis onthou?
Ons het van Parkhurst getrek na die huis in Linden. Ons het net vir 6 maande daar gebly. Daarvandaan het ons na Selcourt getrek.
Van: Shani
Daardie huis in Linden was ‘n fantastiese huis met sy groot tuin en baie vrugtebome en groot plek om in rond te speel. Ek onthou die pruimbome en appelkoosbome aan die linkerkant langs die heining met die de Bruins. Aan die anderkant was die van Duyvenbodes. Die perskebome was agter die huis. Daardie tuin was so groot, Ma het ons met ‘n klokkie geroep vir ete. Dit was die enigste huis waar ons nie onder die Engelse verval was nie, daar was Afrikaners reg rondom ons.
Ek onthou die huis as ‘n wit huis met daardie groot klomp trappies voor die huis rooi, nes die systoep. Ek dink die dak was ook rooi, of dit kon groen gewees het.
Soos ek die huis onthou, onthou ek die sitkamer was ‘n groot genoeg kamer dat dit ‘n sit-eetkamer aaneen was. Ek verbeel my mens kon van die sitkamer deur die kombuis loop na die slaapkamers – soos die Selcourt huis se kombuis. Daar was ‘n ingangsportaal by die voordeur van waar mens links moes draai vir die sit/eetkamer en regs vir die slaapkamers en die badkamer maar dan het die sitkamer ‘n tweede deur gehad na die kombuis toe.
Verder onthou ek ook die huis soos jy dit het met die stoepkamer. Daar was eintlik 2 stoepkamers soos ek dit onthou, maar ons het net die laaste een gebruik om in te speel. Ek het op ‘n keer in daardie stoepkamer allerhande botteltjies met fyn gedrukte blare gemeng met water versamel en my verbeel dis allerhande chemiese preparate. Pa het vir iemand vertel ek oefen om ‘n apteker te wees, en dit was die eerste keer dat ek gehoor het van apteekwese as ‘n beroep, maar my wiskunde was nooit sterk genoeg vir so ‘n beroep nie. Jammer, ek sou nogal daarvan gehou het.
En die kelder, wat ons allerhande hoë verwagtings van gehad het, van skatte tot geraamtes.
My slaapkamer was aan daardie kant van die huis bokant die deur na die kelder en die oprypad na die garage toe.
Ek verbeel my ma-hulle se slaapkamer was net langsaan aan die voorkant van die huis, maar ek kan glad nie onthou waar julle geslaap het nie. Dalk langs my kamer, aan die agterkant van die huis? Ek onthou ook die kombuis, maar kan glad nie die badkamer opset onthou nie? Blykbaar het ek nooit in daardie huis gebad of tande geborsel nie.
Cathy het by my kom slaap en Johan Erasmus by jou en toe sit julle twee ‘n padda in my bed. Gelukkig vir my, binne ‘n ou sjokolade boks, Black Magic, nogal – wat ek nou wonder waar julle dit gekry het. Ek het die vierkantige boksvorm onder die komberse opgemerk en die deksel net effens gelig om te loer wat dit kon wees, gesien dis ‘n padda, en die boks toe met padda en al by die venster uitgegooi; arme ding het hom seker dood geval daar af, want dit was hoog, soos jy onthou.
In die Linden huis was dit oom Ben wat uitgekom het en die swart man verwilder het wat ongelukkig was (met regte, want die vrou het haar rok geskeur toe sy teen die draad vasgehardloop het van skrik, en dit was eintlik sy wat met ons kinders wou praat wat ons laat spaander het na die veiligheid van die huis) met ons slangetjie spelery. Ek dink die Schickerlings was ook daar, ek het ‘n vermoede dit was Pa se verjaarsdag en ons het ‘n familie vleisbraai gehad die aand. Ek dink oom Koos-hulle was ook daar.
Ek onthou ook die ‘cowboys’ en die skietery in die sitkamer. Dit was die groot koppe van JR Watkins, mnre Boult en Sievers. Was daar nog ‘n derde ou ook by, ek verbeel my maar ek kan glad nie sy naam onthou nie? Ek dink julle het aldrie ‘n cowboy hoed en ‘cap gun’ gekry, of was dit net jy en Carl? Leon het omtrent net begin loop daai tyd.
Van Louw Geldenhuys onthou ek nie veel nie. Daar was ‘n Hollandse meisie saam met my in die klas met wie ek goed bevriend was en Annetjie van Wyk de Vries, wie se pa ‘n advokaat was. Hulle het verder af in Derdestraat oorkant Tweedelaan gebly in ‘n dubbelverdiepinghuis wat altyd daarna vir my die ideaal vir ‘n huis was :) Sy was ‘n oulike donkerkop vriendelike meisiekind. Sy het ‘n ouer suster gehad, Aaltje, en ‘n tweeling jonger sussies – een se naam was Lanie, ek kan nie die ander een se naam onthou nie. Op die hoek het die Norvals gebly. Paddy Norval, sy was heelwat ouer as ek, maar om een of ander rede het sy gehou van my maar ons het maar net saam huis toe of skool toe geloop. Haar pa en ma was ook akteurs, ek dink James Norval en haar ma het onder haar nooiensvan gewerk, ek dink sy was Anna Geldenhuys. Sy het my eenkeer na haar huis genooi waar haar ma en pa in die sitkamer gesit het en hulle glad nie aan ons gesteur het nie. Ek het my later verbeel hulle het seker hulle volgende teks gesit en instudeer vir ‘n fliek of iets. Die bure aan die anderkant van ons, de Bruins, was ‘n blondekop dogtertjie jonger as ek, Maria en haar kleinboetie, wie se neus altyd geloop het, en Ma laat gril het. Haar pa was Pieter de Bruin, ook ‘n filmregisseur of iets, en haar ma Mila. Sy het ‘n paar jaar terug nog op Sewendelaan ‘n rol gehad.
Kyk bietjie op Google maps hier, so lyk die huis vandag:
https://www.google.com/maps/place/70+Third+Street,+Linden+Johannesburg/@-26.1314358,27.9913676,3a,75y,135.6h,77.5t/data=!3m6!1e1!3m4!1sWjyrExhMIhYpYaGmvUR8-Q!2e0!7i13312!8i6656!4m2!3m1!1s0x0:0xdd19f2e18e4e91c6!6m1!1e1?hl=en
Henry se kommentaar
Hallo André
So bly jy skryf hierdie dinge neer. Die lewe is so kort en een van die dae is ons al 70 en dan onthou ons niks meer nie!
Ek is so bly Ouma Kitty het haar stories neergeskryf .Op Google het ek so baie gekry oor die Schickerlings ook Dit is ‘n makliker van om te google as de Beer.
Ek weet van daardie kelder ook wat so donker was. Ons het ook maar net ‘n paar maande daar gebly totdat ons Linden Uitbreiding toe getrek het. Die huis is nog daar Ek was in Janaurie by mense vir ‘n braai wat regoor gebly het. Daar is nou baie bome voor die huis en ‘n hoë heining.
Ek weet van die rooi politoer stoep .Oom Koos en tannie Elize het in daardie buitekamer by ons gebly. Sy was toe verwagtend met Elma en dit was net nadat hulle getroud is .Ek onthou die slangetjie trek en die een ousie het teen die draad vas gehardloop en haar rok geskeur het. Sy het toe ingekom en luidkeels protes aangeteken en my ma het toe vir haar geld gegee om haar mond toe te kry Die grootmense het almal op die stoep gestaan en sy het in die tuin staan en skreeu.Ek dink ons het toe al daar gebly..Ek onthou Louw Geldenhuys beter en later was ek saam met meeste van daardie klomp kinders op Linden Hoërskool.
Laer af in daardie straat het Dulcie en Gert van den Bergh ook gewoon..Hulle was toe beroemde akteurs. Regard, hulle seun was bietjie jonger daaom onthou ek hom nie Hy is later met Jana Celliers gertoud. Sy was Bettie Celliers-Barnard se dogter .Jana en ek was saam in Londen .
Ek onthou Hansie Malan ons onderwyseres in Louw Geldenhuys ,Haar man was ‘n Sprinbok rugbyspeler en hulle het in die volgende straat gebly.Die ander onderwyseres was die hoof se dogter Mej Jooste. Sy is later met ‘n tandarts getroud wat in Linden was..
Shani sal Jamie Uys se dogters onthou Hulle was saam met my in die klas, Kobie Uys. As hy ektras nodig gehad het vir sy films-het hulle by die skool afgekondig en dan het mense op Aasvoëlkop waar sy studios was gaan braaivleis eet en dan ekstra in die movies gewees. .Die braaivleis was jou betaling. Jim Reeves was in SA en hulle het daardie tyd “Kimberly Jim “gemaak met hom as die ster-en ek weet baie van my pelle was in die movie. My ma hulle het nie tyd gehad vir sulke nonsense nie! Sy kon ook nie bestuur nie en ons was maar home bound!
Ek onthou ook die rewolwers wat met klappers geskiet het. Jy het ‘n rolletjie papier in die rewolwer gesit met klein swart kolletjies. Die sneller het die kolletjies getref en dit het ontplof. Jou pa het toe net terug gekom van Amerika af. Julle het comboy boots gekry en ook ‘n dagger .
Jy is reg Shani dit was die Norvals en nie die van den Bergh ‘s nie .Paddy het sulke donker hare gehad .Sy was bietjie weird en het nie in ‘n normale huis groot geword nie .So half depressed gewees