Van: André
Van die huis in Parkhurst het ek heelwat herinneringe, maar snaaks genoeg feitlik niks van die binnekant van die huis nie. Kan glad nie die uitleg van die huis onthou nie.
Weet daar was ’n stoep voor, waar die foto van ons geneem was.
Die venster wat op die stoep uitgekyk het, langs die voordeur, was ma-hulle se kamer. As ek reg onthou.
Soggens na pa en ma opgestaan het het ek in hulle bed gaan inklim. Kan onthou hoe lekker warm die onopgemaakte bed nog was van hulle liggaamshitte. Ma was doenig in die kamer, weet nie met wat nie. Die radio het gespeel en ek het heerlik snoesig daar gelê en sluimer met die radio in die agtergrond. Kan glad nie onthou dat enige van julle ander ook saam in die dubbelbed kom klim het nie.
Dit is die enigste vertrek in die huis wat ek regtig kan onthou. Onthou veel meer van die buitekant van die huis. Van ons slaapkamer onthou ek net dat my bed het met sy linkerkant teen die muur gestaan, onder die venster. Onthou Kersoggend wanneer ek wakker word was my kersgeskenk oor die voetenent van die bed gehang. Die bed moes ’n voetstuk gehad het, want die present het aan die voetstuk gehang. Het in die nag wakker geword en het in donker probeer kyk of die present al daar was. Kon nie agterkom wat dit was nie en moes maar wag tot dit lig word. Die opgewondenheid en afwagting was amper ondraagbaar!
Buite aan die agterkant was die wasgoeddraad, die bediendekamer met ’n buitetoilet en die kolekamer – kole “bunker”. Die swartmanne het met sakke kole gekom en die sakke in die “bunker kom ingooi tot dit vol was. Aan die onderkant was ’n opening waar mens ’n graaf kon insteek om die kole uit te skep en in die emmer gooi om huis toe te neem. Kan glad nie onthou of ons ’n koolstoof of ’n kaggel gehad het nie. Wat het ons met die kole gemaak?
Die bediendekamer onthou ek altyd as donker, bedompig en depressief.
Was daar ’n vyeboom in die agterplaas?
Henry onthou meer van die huis as ek, lyk my. Hy noem dat ons hond het in die bediende toilet verdrink. Noudat hy dit genoem het, kan ek dit so vaagweg onthou. Dit was ’n rooibruin spanjoel met lang ore.
Die wasgoeddraad was twee drade gespan tussen twee pale met ’n T-stuk bo-aan. Onthou twee goed van die wasgoeddraad. Daar was ’n stuk hout met ’n driehoekige yster aan die een punt. Waarvoor die ding gebruik was weet ek nie. Maar ek het met die paal langs die wasgoeddraad op en af gehardloop met die driehoekige stuk yster wat bo-op die draad langs gegly het. Ek het gespeel dit was een van die elektriese busse wat twee ysters op
hul dak gehad het en kontak gemaak het met die elektriese drade wat oral in die middel van die strate geloop het. Die ding waarmee ek gespeel het, was nie vas aan die wasgoeddraad nie, maar het net op die draad langs gegly. Eendag het die ding van die draad af gegly en het vir Shani netjies op die brug van haar neus, tussen die oë geslaan. Vir wat sy ook daar in die bus se pad gestaan het weet nugter. Dit was haar eie skuld, sy behoort beter geweet het as om so naby ’n bus te staan wat op en af langs die wasgoeddraad gery het.
Dit was nogal ’n goeie hou gewees – die bloed het geloop. Shani jy het seker nou nog die letsel op jou neus? Ek onthou net die skok wat ek ervaar het toe sy die hou weg het. Kan nie onthou wat daarna gebeur het nie. Ma het my seker goed gevoeter, maar dit onthou ek nie. Is dit hoe jy die voorval onthou Shani?
My ander herinnering van die wasgoeddraad was eendag toe ek teen die paal opgeklim het tot bo. Aan die bokant was ’n gat in die paal. Ek het seker my vinger in die gat probeer indruk – heel normaal vir so ’n stupid kind soos ek maar altoos was. ’n Rooiby of bye, kan nie onthou nie, had by die gat uitgekom en my gezap. Kan nie onthou waar op my lyf nie, seker in die gesig of op my bles. Onthou net dit het woes gebrand.
Die voorkant van die erf was maar klein. Die huis het baie naby aan die voorste grens gestaan. Daar was ’n hoë privet heining waardeur ons altyd geklim het om oor die muurtjie voor te kon klim straat toe. Eendag was daar ’n lekker vet groen, harige wurm in die privet heining. Weet nie of ek die ding probeer vat het nie, waarskynlik, want ek was nou nie juis die skerpste potlood in die pakkie nie, of hy het net aan my arm geraak. Sjoe maar het dit gebrand! Die vieslike wurm had toe altyd gif in die lang hare wat so orênt staan. Ek is al gillend huis toe.
Langs die huis was daar ’n groothek en ’n inry vir motorkarre. Ek kan glad nie onthou of daar ’n garage/motorhuis was nie. Onthou egter die inrit wat of geteer was of net los gruis op gehad het. Ek het eendag in die oprit gespeel en met ’n driewiel fiets gery (of was dit nou een van daai skopfietse “scooter” wat ons een kersfees gekry het). Ewentwil, waarmee ek ookal gery het, die ding het my afgegooi – kan ook nie meer onthou hoe nie – ekt geval en my kniege stukkend geval. Een van die klippies van die gruis het in my been net onder my knie ingesteek en daar vasgesit. Was baie swaar gewond, het nou nog ’n merk onder my knie waar die klippie ingesteek het, as mens baie mooi kyk.
Die plek langs ons huis, op die hoek was gesloop en die erf het leeg gestaan totdat hulle die bibliteek daar gebou het. Weet nie of dit net een erf of twee erwe langs ons was nie. Daar was eendag ’n man op die leë erf wat messe en skêre ens skerp gemaak het. Kan nie onthou of dit ’n swartman, kleurling of amper witman was nie. Hy het ’n groot ronde slypsteen gehad wat in ’n houtraam monteer was. Hy het ’n pedaal langs die kant getrap,
dan draai die slypsteen in die rondte. So ’n ligte grys steen omtrent so groot soos ’n kar se stuurwiel en omtrent 2 duim breedt. Hy het voor die kontrepsie gesit op ’n lae stoeltjie of ’n krat. Die slypsteen het stadig gedraai en dan hou die ou die meslem teen die steen om dit te slyp. Die steen was nie baie mooi rond nie en ek onthou die meslem het so op en af gewip op die steen terwyl hy dit teen die steen hou. Hy het ’n blikkie met water gehad en kort-kort die slyp oppervlakte nat gegooi.
Ek kan nie onthou of ma my ’n paar kombuismesse of skêr gegee het om na hom te vat om geslyp te word en of ek sommer net die ou gestaan en dop hou het nie. Ek onthou die houtraam kontrepsie en die steen wat stadig draai met die lem wat op en af beweeg op die oppervlakte van die steen.
Later is die biblioteek op die terrein gebou en ek kan onthou dat ek boeke gaan uitneem het om te lees. Het met die boek of boeke huistoe gehol, vinnig die boek deur gelees (of net prentjies gekyk) en dieselfde dag nog die boek weer teruggevat en ‘n nuwe gaan haal. Sommer meer as een keer op ’n dag.
Daai biblioteekaresse was seker al g..vol vir my wat elke kort-kort daar was. Van die biblioteek se binnekante en die biblioteekaresse self kan ek niks onthou nie. Dit moes seker in die skoolvakansie gewees. Ek neem sommer aan dit was ’n resse en nie ’n man nie.
Van die kombuis by die huis kan ek onthou daar was ’n kombuistafel met stoele om en daar was ’n agterdeur. Verder weet ek niks van die plek nie. Dit onthou ek want ek het eendag meisie klere aangehad. Weet nie wie se plan was dit om my so aan te trek nie. Kon tog nie my eie plan gewees het nie, kon dit? In elk geval ek het ’n rok aangehad, seker een van Shani se rokkies. Dink dit het kaal skouers of net dun bandjies oor die skouers gehad. Ek het met die rok aan by die kombuistafel gesit en toe het daar iemand kom kuier. Tannie Hanna of tannie Stienie. Kan nie onthou nie, maar dit was ‘n vrou. Die beskoeker het gesê ek maak nogal ’n mooi meisie! Dit was die einde van meisieklere aantrek. Kan nie glo dat ma dit toegelaat het dat ek ’n rok aangetrek het nie!
Ek onthou ook ’n geleentheid toe ek onder my bed in die kamer weggekruip het en ma my daar kom uithaal het. Die omstandighede was egter bietjie “embarassing” en ek sal dit liewer nie hier vertel nie.
Van : Henry
Parkhurst se huis sien ek elke keer as ek in JHB is Dit het nog dieselfde diefwering- ronde blomme soos daisies.voor die vensters Weet van die stoep en prieel voor die huis.Ek dink tog daar was ‘n garage vir julle ligblou Humber Super Snipe! Weet van die kombuis waar ons die Pilchards en bruin brood moes afwurg..Ek onthou julle tannie Stienie en jou Ouma ook baie goed. Ook vir Tonie en Willie.Ek weet Tannie Hanna het by julle gebly daardie tyd en Oom Koos by ons,
Ek onthou die bus wat reg voor julle deur gestop het en ons het skool toe gery met daardie bus wat dorp toe geaan het. Onthou die buskaartjie ook.