Huis in Parkhurst (2)

Shani:

André se onthou van die Parkhurst huis het baie herinneringe los gemaak by my.

Ek onthou ook die groot stoep voor die huis. Die begin van Pa se stoepe? Ons het op somersaande daar buite op die stoep gesit na ete (nog voor die tyd van tv) veral oor naweke en dan het Pa vir ons vertel van die sterre terwyl ons gesit en kyk het.

Soos André onthou, was Ma-hulle se kamer die eerste kamer links uit ‘n gang van die voordeur af. Aan die regtekant was die sitkamer wat ek dink ons ook by tye gebruik het as ‘n eetkamer.

Ek onthou die diefwering met die blaartjies patroon en daar was baie mooi lampkappe in die huis. Ek dink dit was ‘n huurhuis soos ook die Linden een en voor ons in die huis gebly het was daar Hollanders in die huis. Of dit die eienaars was en of hulle ook net gehuur het weet ek nie. Ek onthou die man by ‘n tafel sit onder een van die lampkappe, so ons het seker na die huis gaan kyk voor ons daar ingetrek het. Vandag is daardie diefwering nie meer daar nie, en dit lyk asof die groot stoep ook verdwyn het, dalk in die huis ingebou. Die huis het nie ‘n boonste verdieping gehad in daai dae nie.

In die gang af verby Ma-hulle se kamer was die kombuis. Die agterdeur het uit die kombuis oopgemaak aan die linkerkant van die huis, die area agter die motorhuis. En dan uit die kombuis het daar ook twee deure uitgeloop een na die opwaskombuis en die ander na die spens. Die enigste huis wat ek ooit ingebly het wat ‘n spens gehad het. Tannie Sus-hulle se huis in Haleylaan Germiston het ook ‘n groot spens gehad. Vandag sien mens dit nie meer nie.

In die opwaskombuis was daar ‘n klein koolstofie wat elke oggend aangesteek moes word om die water warm te maak vir die dag se gebruik. Daar was ook ‘n kaggel in die sitkamer waar daar vuur aangesteek was in die wintersaande. Ek was altyd so verstom dat Ma kon vuur maak sonder enige moeite, as die ousie nie daar was nie. En hoe die ousie meer houtjies op die vuur kon pak tussen die vlamme in sonder om haar self te brand.

Aan die regterkant van die gang was daar na die sitkamer twee slaapkamers. Die heellaaste slaapkamer was langs die badkamer. Daar het ek geslaap saam met tannie Hanna in die tyd dat sy by ons gebly het. Ek onthou ook dat ek en André by mekaar in die bed geklim het as ons wakker geword het in die nag, en ons bang was vir die donker. Dit het seker nie baie gebeur nie want Ma sou dit nie duld dat ons so in die nag rondloop nie.

Tannie Hanna het ons baie aande opgepas terwyl Ma en Pa uitgegaan het. Ek was nooit geneë daarmee dat hulle moes uitgaan nie en een aand het tannie Hanna my getroos met twee van haar versameling koekversierinkies. Dit was poppies en letters wat van harde versiersuiker gemaak was wat sy bymekaar gemaak het van versierde koeke, vriende of dalk broers en susters se troues ens. Sy het ‘n hele paar gehad wat sy gehou het omdat dit vir haar te mooi was om te eet. Sy het my gewaarsku dat ek dit nie moet eet nie, maar mooi was nog nooit so mooi dat ek dit nie kon eet nie, en daar het min daarvan oorgebly. Sy was nie baie lief vir my toe sy dit agtergekom het nie.

https://www.google.com/maps/place/Parkhurst+Clinic/@-26.1403538,28.017593,3a,75y,206.44h,73.37t/data=!3m7!1e1!3m5!1su3AvmyT9OTvb5Tijz9AJXw!2e0!6s%2F%2Fgeo0.ggpht.com%2Fcbk%3Fcb_client%3Dmaps_sv.tactile%26output%3Dthumbnail%26thumb%3D2%26panoid%3Du3AvmyT9OTvb5Tijz9AJXw%26w%3D88%26h%3D60%26yaw%3D163%26pitch%3D0%26thumbfov%3D96%26ll%3D-26.140354,28.017593!7i13312!8i6656!4m2!3m1!1s0x1e950b5fac660629:0x14f3a7fd2a602a54!6m1!1e1

Mens kan nog in Google se straataansig, die gangetjie sien wat langs die huis agter die winkels verbyloop. Daar was ‘n ander winkel op die hoek voor die biblioteek daar was. En een aand het ek en tannie Hanna, verbeel ek my, of dit was Ma, daar by die kamervenster uitgekyk na ons ‘n rumoer buite gehoor het, en gesien hoe polisiemanne ‘n swarte daar agterna sit in die gangetjie af. Ons het meer as een keer op daardie selfde groot stoep gesit en dan mesgevegte/knopkieriegevegte tussen gewoonlik besope swartes gesien gebeur. Eenkeer met ‘n mesgeveg het Pa die polisie gaan bel om te kom ingryp want daar het een bly lê. Dit het alles op die oorkantste hoek gebeur voor die kafee wat daar op die hoek was.

Oorkant die pad het daar vir ‘n ruk Afrikaanse mense gebly en ek het taamlik gereeld by die dogtertjie gaan speel in hulle buitekamer. Ek kan eintlik glad nie onthou wat haar naam was nie. Langs hierdie huis, tussen die huis en die kafee op die hoek, was daar ‘n droogskoonmakery. Daar het ‘n ouer tannie gewerk met wie ma baie vriendelik geraak het. Toe Leon gebore is moes ek al skooltoe gaan en terwyl Carl en André by tannie Sus-hulle in Germiston gaan bly het terwyl Ma in die inrigting was, het ek by die huis gebly. In die oggende het Pa en tannie Hanna gesorg dat ek reg is vir skool en in die middae na skool moes ek toe by die tannie in die droogskoonmakery gaan bly totdat Pa of tannie Hanna my daar kom haal het.

Dit was met Leon se bevalling wat dr Henning, ons dokter besluit het hulle haal sommer Ma se blindederm ook uit. Sy moes so ‘n dag of wat langer in bly daarvoor. Gewoonlik het Ma’s in daai dae omtrent ‘n week in die inrigting gebly na ‘n geboorte.

Na Carl se geboorte verbeel ek my het ouma Elsie vir my en André kom oppas en natuurlik huisgehou. ‘n Ruk na Leon gebore was het Ma saam met Pa op ‘n besigheidstoer gegaan saam met die baas, mnr Hawkins, in sy eie vliegtuig. Ouma Elsie het ons kinders kom oppas. En daar moes mnr Hawkins ‘n noodlanding maak. Iets het verkeerd geloop met die vliegtuig. Gelukkig die aand toe ons die nuus oor die radio hoor was Ma en Pa alreeds terug by die huis en het hulle saam met ons gesit en luister na die storie.

Oorkant die straat een huis bokant die speelmaat se huis het mev Sullivan gebly saam met haar ma wat vir haar huisgehou het en haar man. Sy het klavier- en sangles gegee en na ek begin skool toe gaan het, Jan Celliersskool in Parktown, het Ma my na mrs Sullivan toe geneem vir klavierles. Aan die begin het ek nie ‘n klavier gehad om op te oefen nie. Ma se klavier het vir een of ander rede wat ek nooit uitgevind het nie, op die plaas in Potch gestaan. Die klavier moes eers aangery word maar tot tyd en wyl het ek op die kombuistafel my note geoefen. Ma het die note op die houttafel geteken en ek moes daarop oefen. Nie ideaal nie maar dit het tog gewerk. Dit was darem nie vir baie lank nie.

Mrs Sullivan het ‘n anderste manier van klasgee gehad. Ek het twee maal ‘n week klas gehad, Dinsdae en Vrydae. Al die kinders wat daardie middag klas gehad het, het almal dieselfde tyd gekom, net na skool. Ek onthou die hoërskoolkinders het later ingekom; en dan het ons almal daar gesit by ‘n tafel in haar sit/eetkamer om teorie te doen terwyl sy ons een vir een geroep het om te kom speel. Die jongeres soos ek, het dan kon hoor hoe speel die ouer kinders, wat nogal ‘n goeie aansporing was. Ek kon nie meer onthou vir hoe lank die lestyd was nie, maar dit was lank genoeg dat daar ‘n “teebreek” was in die middel van die middag. En daarna het ek gewoonlik huis toe gegaan.

Mrs Sullivan het ook gesing en ons het ‘n paar maal na haar geluister oor die radio – sy het as Sylvia Sullivan gesing. Haar man was ‘n alkoholis wat meermale in die sitkamer tussen ons kinders kom sit het en dan aanmerkings gemaak het oor hoe ons speel. Hy het gedurig teen sy vrou gepraat, as sy ons wys op iets wat ons verkeerd doen het hy gereken ons speel heeltemal goed genoeg. Sy het hom altyd toegesnou om stil te bly, maar hy het gebly solank dit hom behaag het en net geloop wanneer hy gedink het hy het haar genoeg geïrriteer. Haar ma was ‘n baie liewe klein vroutjie, mrs Black, sy het altyd gesorg vir die drink en eetgoed vir die “teebreek”.

En dis waar ek leer Engels praat het. Ma het vir haar gevra om nie Afrikaans met my te praat nie, al was sy Afrikaans magtig, sodat ek Engels kon leer. Tydens die “teebreek” was daar altyd koeldrank en koekies en dan het ons buite toe gegaan en op die grasperk rond gestaan en soms aan-aan gespeel. Almal was groter as ek en ek was vreeslik beïndruk met die groter kinders. Daar was twee broers, Malcolm en Trevor, wat in Parktown Boys was en ‘n meisie een jaar ouer as ek, Kay. Sy het na die convent skool gegaan en dan twee ouer meisies, Rhoda en Shirley. Ek dink Rhoda was in Parktown Girls, maar Shirley se skool uniform het ek nie geken nie. Ek en Kay moes altyd op die stoep gaan sit om ons vingeroefeninge saam te sit en oefen.

Shirley het nie gereeld gekom nie, ek dink sy het net soms vir ekstra klasse op ons middae gekom. Shirley se pa het modeltreine gebou en Pa het hom leer ken by die klub wat hy bygewoon het. Pa het in daardie jare ook daarin belang gestel, maar ek glo nie hy het ooit ‘n treintjie gebou nie. Pa het kom vertel dat Shirley so ‘n wonderlike musiektalent het, hulle het groot dinge van haar verwag. En een Sondagmiddag het ons by hulle gaan teedrink, seker sodat Pa die man se goeters kon sien, maar arme Shirley was met my opgesaal. Ek onthou ons het in hulle tuin te lande gekom.

Verder op in die straat het Phyllis Kruger gebly. Ek en sy was in dieselfde klas op skool en vir ‘n ruk lank was ons maats. Sy het ‘n ouer suster gehad wat al in die hoërskool was, Sofie. Maar Ma het nie veel van hulle gedink nie, Phyllis was heeltemals te oud vir my met die goed wat sy by Sofie geleer het. Langs hulle het die stoeier Willie Liebenberg en sy vrou gebly.

Aan ons kant van die straat so twee huise bokant ons het daar ‘n Hollander man en vrou gebly. Ma het baie by haar gaan tee drink, of eintlik, koffie, want sy het Ma geleer om koffie met warm melk te drink, wat Ma weer by die huis kom maak het vir Pa. Ek kon nooit die warm melkkoffie waardeer nie, maar die vrou het vreeslike mooi ou goedjies in haar sitkamer gehad, porselein windmeultjies ensoaan wat seker saam met hulle uit Europa gekom het. Maar sy het ook baie stories gehad oor die swaartye wat hulle gehad het in die oorlog. Een storie wat sy vir Ma vertel het was dat hulle op ‘n stadium geen kos in die hande kon kry nie en dat hulle rotte gevang en gekook het. Ma het so gegril, en ek gril tot hierdie heden dag nog, maar Ma was nogtans baie beïndruk met die vrou se stories van swaarkry.

Daar was ‘n motorhuis met ‘n sementoprypad van die hek af. Nes dit nog op die Googlemap lyk sou ek sê. Ons het nog ‘n foto, geneem saam met die Buitendags en Willie, in die oprypad voor ‘n klimop heining.

Die voortuin was nie baie groot nie maar daar was ‘n paar roosbome en hulle dorings het gekeer dat ons nie teveel daar speel nie. Maar daar was ook so twee kliptrappies af na die laer terras na die biblioteek se kant van die tuin toe, en daar het ek een aand geval en my enkel verswik. Dit was ouKersaand en Ma en Pa was op pad uit en ons kinders was by die huis saam met tannie Hanna. Sy het my later hoor huil in my bed en toe kom kyk na my enkel wat toe goed geswel is. Daar het ek geleer mens kan ys op swelsel sit om dit te help afbring. Sy het my enkel verbind met ‘n stuk laken en ysblokkies tussen die lae laken vasgedraai. Ek het my daaraan verstom dat dit is hoe mens moet maak met verswikte enkels. Die volgende Kersfees was ons op die plaas in Potch toe ek weer my enkel verstuit het en weer met ‘n vasgedraaide enkel gesit het vir twee Kersfese na mekaar. Al die jong ongetroude ooms en tannies (Oom Meyer, oom Koos, tannie Miemie en tannie Hanna) met maats, was daar en daar was speletjies gespeel op die gras buite die huis maar ek moes sit en kyk en kon nie saam speel nie.

Die agterplaas in Parkhurst het ‘n grasperkie gehad en ‘n paar blombeddings maar agter dit was daar vrugtebome, ‘n vyeboom soos André onthou maar ook ‘n groot moerbeiboom wat ek kon inklim en die wêreld van daar bo af kon sit en beskou en die laaste jaar of wat wat ons daar gebly het, met ‘n boek. Ek onthou ook ‘n boom wat Pa en Ma geplant het met wit bloeisels en ek verbeel my dit was ‘n kersieboom maar ons is daar weg voor die boom begin dra het. Ek verbeel my verder dat daar ‘n amandelboom ook in die tuin was.

Aan die bokant van die tuin was die wasgoeddraad waar André gespeel het hy is die buskondukteur en my oor die neus gezap het met die ‘stang’ (sien vorige artikel oor Parkhurst). Wat André gebruik het was die hefboom van ‘n bruin karretjie, ek dink dit was bedoel as die lang steel vir ‘n speelgoedwaentjie, maar wat afgebreek het en toe daar in die tuin rondgelê het. Die hou het seer gemaak en die bloed het geloop. Ek het nog steeds die letsel tussen die oë, maar ek dink nie André was vreeslik gestraf nie. Ek dink hy het raas gekry maar dit was ook al.

Wat ek nog meer onthou: ek het op ‘n stadium ‘n popwaentjie gekry, seker vir Kersfees of ‘n verjaarsdag, wat baie op die ware jakob gelyk het, met ‘n diep boom onder die matrassie en daar het André eenkeer sand ingegooi, in die gat onder die matras. Dit het my erg gegrief. En ander keer het hy my in ‘n rusie met my eie pop oor die kop geslaan en die arme pop se gesig gekraak. Die poppe van daai tyd was mos maar gemaak uit ‘n tipe van papier- maché en nie in staat om harde optrede te oorleef nie.

In die huis agter ons het daar nog Engelsman, ‘n donkerkopseun, genaamd Roy gebly. Hy het ons altyd gekoggel oor die muur maar hy het vinnig laat spaander as hy Ma sien uitkom het.

Nou darem baie ver paaie geloop. Ek het nie gedink ek sal nog soveel kan onthou van daai dae nie, dit was darem al sestig jaar gelede, maar kyk nou net!

2 thoughts on “Huis in Parkhurst (2)

  1. Lieben heiden, Shani maar jy kan darem baie goed onthou.

    Meeste van die goed waarvan jy praat kan ek niks onthou nie. Veral nie van al die mense wat rondom ons gebly het nie.

    Natuurlik weet ek niks van die slanery met jou pop nie. Ek pleit onskuldig weens die kortkomstigehid van my gedagtes!

    Dink ek kan die popwaentjie so effens onthou. Was dit ‘n pienke? Van enige sand in die waentjie weet ek niks. Sal maar jou woord daarvoor moet aanvaar.

  2. Nee, dit was ‘n donkergroen waentjie. Dit was nog voor die dae dat meisies so pienk verskrik was, of dalk het hulle nog nie daai jare die babapienk verf uitgedink nie. Dit was ‘n baie mooi waentjie wat nogal gelyk het na die propperse ding.

Leave a Reply

Your email address will not be published.