Klavierlesse in Parkhurst

André:

Hi Shani, so van klavierlesse gepraat,

Ek onthou dat ek en jy in die middae per fiets moes ry om klavierlesse te gaan neem.  Dit

was ’n lang pad en ver om te ry – soos dit vir my gevoel het. Moes seker gewees het toe

ons in Linden gebly het.

Daar was so ’n lang opdraende. Steil pad wat altyd ’n stryd was om teen uit te ry.

Bloekombome langs die pad. Halfpad teen die opdraende uit het ons eers ’n ruskansie

gevat en van die melk gedrink wat ma vir ons saam gegee het. In ’n vierkantige glasbottel

met ’n opskroef prop. Dalk ’n ou Worcestersous bottel.

Ons het klavierlesse by ’n vrou gekry. Kan nie onthou wie of wat sy was nie, maar daai

vrou het my met erge emosionele trauma gelaat sodat ek daarna nog nooit weer probeer

klavier speel het nie. Sy het op ’n stoel langs my gesit terwyl ek die toonlere moes speel.

Elke keer dat ek ’n verkeerde noot gedruk het, het sy my met ’n liniaal oor my vingers

geslaan. Nie veel gepraat, soos ek onthou nie. Net skielik ’n vinnige harde hou met die

liniaal. Ek het altyd probeer koes vir die hou, maar sy was te vinnig! Whack – oppie

kneukels! Gin wonder ek het nou sulke dik geswelde litte nie. Altyd gedink dit is

rumatiek, maar nou dat ek daaraan dink, dis seker al daai houe met die hout liniaal.

Dis ook geen wonder dat ek so baie verkeerde note gedruk het nie. Ek was dan heeltyd op

my senuwees. My oë toegeknyp en gewag vir die hou om te val. Vandaar het ek besef ek

het nie musiekale aanleg nie. Kan nie eers ’n klavier speel nie.

Dink ook nie ek het veel lesse by haar gehad nie. Ma het seker moeg geword vir my

geklaery en dit was die einde van my musiek opleiding.

Shani:

Ja, dit was die tyd dat ons in Linden gebly het. So jy het maar net vir 6 maande les gehad, en dit was by dieselfde mrs Sullivan.  Ma het in die stad gaan werk in oom Freddie se winkel,  dis  ‘n storie vir nog ‘n artikel, hoekom sy dit nodig gevind het om te gaan werk.  Daarom kon sy ons nie neem nie en was die ooreenkoms dat ons self met die fietse moes ry.  Nogal ‘n lang ent pad van Linden af deur Greenside en op die rant van Emmarentia verby tot in Parkhurst deur die besige straat waarin al die busse ook gery het, ons twee, ek 8 / 9 jaar oud en jy 6. Vandag sal dit nie meer so maklik gebeur dat ‘n kind van daai ouderdom so ver op ‘n fiets moet ry nie, elk geval, nie hier in die stad nie.

Dit was met die terugry dat ons altyd halfpad op die steil opdraend voor Linden gaan stop het en daar langs die pad gaan sit het om ons melk te drink uit ‘n ou Bev koffiebottel. Ons het iets geëet ook, ek dink dit was rooiworsies, en dan baie keer terwyl ons daar sit kom Ma in haar Ford Prefectjie verby ons gery. Ek weet glad nie waar Leon en Carl was in die tyd dat ons heen en weer na die klavierles toe gery het nie.  Iemand moes hulle opgepas het. Dalk tannie Rina, maar ek dink nie so nie. Of dalk die buurvrou, mev van Duyvenbode, Herman en Martin se ma.

Ek dink Mrs Sullivan was ‘n baie goeie onderwyseres, maar sy het nie nonsens gevat nie, en jy het seker nie genoeg geoefen nie. Sy het ook ‘n studio in die stad gehad waar sy haar sanglesse gegee het en vir ander leerlinge ook klavier en vir die klavier eksamens moes ons klomp van Parkhurst na die studio toe gaan en daar sit die hele middag totdat almal hulle eksamens gedoen het. Ons het saam met haar ingery en dan weer saam met haar teruggery. Die teorie eksamens was in ‘n groot saal gedoen en ek verbeel my nogal dit was die stadsaal, maar daai jare het ek nie veel geweet van die stad nie, so ek kan verkeerd wees.

Leave a Reply

Your email address will not be published.