Nog stories oor Selcourt

Selcourt huis voor die swembad
Selcourt huis voor die swembad

Carl:

12 Aug 2015

Ek onthou nie veel van Linden nie, net die hoë trappe na die voordeur en die kelder. Ek onthou slangetjie trek in Selcourt waar een van ons slange ook doodgeslaan was, aan ‘n lang stok opgetel en toe verbrand was. Een aand het die ryk boer van oorkant af uitgekom met sy (hael?)geweer, ons het baie stil agter ons muurtjie gelê totdat hy weer ingegaan het. Van die bure onthou ek Gary skuins oorkant wat sy vinger in ma se tee gedruk het. Schultz’se (Penelope en Christopher), die ryk mense oorkant die straat, Jerry en (kan nie die ander een onthou nie, Joodjies wat onder langs die rykmense gebly het. Carrots bo in die straat en die Joostes. Shani jy kan gerus ‘n boek skryf oor hulle.

  Met Selcourt NG kerk se 50ste bestaanjaar vieringe het ons weer verby die huis in Halkynweg gestap. Hy het toe gelyk soos op die (Google) foto. Die erf is onderverdeel met ‘n huis wat op ons grasperk staan.

    Pa het so ‘n lekker grassnyer gehad wat homself aangedryf het, so ‘n groot ding. Hy het so ‘n clutch gehad wat jy getrek het aan die einde van die ry dan draai jy hom om, laat los die clutch en sny die volgende ry.  Natuurlik was dit nie pret nie en dan probeer jy die ding 180 grade in die loop draai. Maar die ding was groot en ons was klein, so menigmale het ons nie ons draai gekry nie en dan is ons met die grassnyer in die blom bedding in. Baie raas gekry as ons die vuurpyle kort gesny het en die blare van die vuurpyle in die lemme gekoek het.

   Daardie grasperk was groot genoeg om rugby en krieket op te speel. Ons, dis nou Andre en ek aan ‘n kant en Leon en Elijah aan die anderkant, het ‘n paar keer rugby gespeel. Maar Elijah (of was dit Elias) was op sy eie te sterk vir ons gewees. Hy het gate deur ons gehardloop.

   Die dag wat die brandweer water in ons swembad kom tap het, was dit Tinus se verjaarsdag partytjie, maar ons moes eers swem al was die water hoe vuil.

   Tinus, Leon en ek het een aand gaan toktokkie speel. Ons gooi ‘n klip op ‘n huis se dak in Nigelweg hardloop ‘n entjie en begin toe aanstap. Weet nie hoekom nie maar Tinus kyk om skreeu net hier kom iemand en hardloop. Ek en Leon kyk om, sien dat iemand met ‘n spoed na ons aangehardloop kom en spring ook daar weg oor Nigelweg na daardie krom straat onder ons met Tinus baie ver voor dan ek en Leon wat die agterhoede vorm. Halfpad in die straat af skreeu Leon, hy kan nie meer nie sy been is seer. Toe vat die ou so aan Leon se skouer. Ek stop, Leon kom verby en die ou loop my onderstebo en gryp my toe vas. Hy laat my goed verstaan dat daar ‘n klein babatjie in die huis was wat hulle net aan die slaap gekry het toe ons hom met klippe op die dak wakker gemaak het. Hy wou my eers polisie toe sleep toe na my ouers toe en ek skop net vas. Ewe doodluiters kom Leon aangestap: ” What did he did, sir.” Die ou het toe sy hande opgegooi omgedraai en weggeloop. Ons het seker vir ‘n halfuur nog na Tinus geroep en soek. Hom later agter ‘n tuinmuurtjie gekry.

André:

Omtrent waar die SPAR nou in Nigelweg is, het die tweeling Wilma ? hulle gebly.
Hulle pa was ‘n boukontrakteur, maar het ‘n beroerte gehad en kon nie praat nie. Het net altyd daar in ‘n stoel gesit. Was hulle nie een of ander manier familie – verlangs – van ma nie?

 Shani:

Dit was die Gunters wat jy onthou André. Mev Gunter (was sy tannie Toekie of Toeks of Toks, so-iets ?) was Ma se niggie, of kleinniggie dalk. Daar was 3 kinders, Elsa en Wilma, ‘n tweeling en hulle ouer broer. Een van die tweeling het ‘n gebrek gehad en snaaks geloop. Die ander een was nie baie vriendelik met haar suster nie.  Ek wonder wat het van hulle geword.

Langs ons het Dicky Claase gebly. Sy ma het ‘n skeeloog gehad. ‘n Baie liewe gawe mens.
En hulle het ‘n swart worshond gehad, Shandy, wat tee gedrink het en glo daarom ‘n baie blink vel gehad het. Hulle is later Nieu Seeland toe maar het weer terug gekom ‘n paar jaar later, maar ek dink mev Claase is toe oorlede. Sy het ‘n swak hart gehad, of asma, of so-iets.
Ek onthou die boer oorkant die pad, mnr Kaplan wat die ertappelkoning van Delmas was vir ‘n goeie ruk. Een van sy dogters het in die Maccabi spele in Israel gaan swem vir ‘n paar jaar na mekaar. Ons was nogal geïmponeer daarmee. Ek dink hy het 3 dogters gehad. Het jy nie op ‘n stadium baie vriendelik met haar geraak nie, Carl? Ek verbeel my julle het gesels.
Ek onthou hoe hy eenkeer in sy tuin gestaan en tuin natspuit het, dit moes op ‘n Sondag gewees het, ander dae was hy nooit so rustig nie, hy het net altyd om die hoek aangejaag gekom met sy groot bakkie en op ‘n Saterdag sou dit sy sabbat gewees het. Terwyl hy daar gestaan het het twee swart tantes op die grasperk voor sy huis in ‘n woordewisseling betrokke geraak en later op die grond gelê en rondrol, al skreeuende. Hy het doodluiters die tuinslang volstoom op hulle gerig en daar gehou tot hulle al kwetsende straat op verdwyn het.

Sharon was die dogter van die ryk Jood op die hoek met Federalweg, in die dubbelverdiepinghuis, maar ek kan nie onthou wat hulle van was nie. Katz verbeel ek my, of Shapiro?

En ek onthou die Joostes, of ek dink ek onthou hulle, die meisie, Regina, was ‘n jaar ouer as ek, en haar broer nog ‘n ent ouer, maar sy naam onthou ek nie. En hulle het altwee Engelse skole toe gegaan hoewel hulle Afrikaans kon praat.

En daar was die Scarrotts hoër op in die straat, so skuins oorkant die Joostes.

Ek dink dit was Elias wat by ons in die tuin gewerk het in die middae na skool. In die aande het hy skottelgoed gewas in die kombuis en dan gestaan en leer uit ‘n boek wat hy in die klein venstertjie langs die wasbak staangemaak het. Hy het later epilepsie ontwikkel en eenkeer ‘n toeval gehad langs die swembad. Ma het vir Gasha en Margaret wat die wasgoed gedoen en in die huis gewerk het, geroep om te kom help. Hulle kon natuurlik nie veel doen nie.  Toe is hy terug na sy huis toe en heelwat later het sy vriend, Pietros, kom vertel hy is oorlede. As ek reg onthou het die aanvalle al erger geword en toe het hy selfdood gepleeg, homself opgehang, dink ek.  Tragies.

Onthou julle nog die winkels in Nigelweg? Dis nog ‘n artikel werd.

Leave a Reply

Your email address will not be published.