Monthly Archives: September 2015

Dahlias

8 September 2015

André:

In Selcourt het Ma altyd Dahlias geplant. Langs die lae heiningtjie wat die swembad aan die oostekant begrens het. Tussen die swembad en die vrugtebome.

Massiewe dahlias, langer as ek, daai tyd. As mens van die huis af geloop het na die vrugtebome en die aanttrekhuisie, was daar ’n groot moerbeiboom aan die linkerkant en dan die dahlias. In die grond onder die moerbeiboom en die dahlias het ons baie gespeel.

Paaie aangelê, huise gebou en plase bedryf. Met karretjies (was dit Dinkietoys?) op die paaie gery. Ons het riviere gemaak en water, dink ek van die swembad, aangedra en in die voortjies gegooi. Baie frustrerend dat die water so vinnig in die grond bly wegsypel het, nog voor dit die volle lengte van die rivier gevloei het.

Continue reading Dahlias

Pa se storie

Pa en Ma het hulle stories aan Petr vertel een keer terwyl hulle hier gekuier het. Hier is wat Petr neergeskryf het van Pa:

Pa is gebore in Hanover in die Oos-Kaap maar hulle het getrek nog voor hy veel ouer was. Eerste Krugersdorp toe.

Voor sy geboorte was daar reeds ‘n babasussie gebore maar sy het nie lank geleef nie. In die tyd het die gesin in Suid-Rhodesië gewoon. Na Pa was daar nog 9 kinders gebore waarvan een ‘n stilgeboorte was (‘n tweeling vir tannie Miemie) en ‘n ander een (tussen oom Koos en tannie Hanna) wat ook net ‘n paar maande geleef het.

Continue reading Pa se storie

J R Watkins en Kie

Toe ek Ma se kombuiskaste uitgepak het in April het ek nog op Watkins speserye in haar kas afgekom. DIT was ‘n trip down memory lane. Blikkies met die JR Watkins logo op. Die goed binne in was natuurlik kliphard uitgedroog. Ek onthou die vanilla en een wat altyd vir my baie snaaks/eienaardig was – sassafras. Ek weet nou nog nie waarvoor dit gebruik moes word nie. Ek weet nie of Ma dit ooit gebruik het nie.

Maar ons was gedokter met Watkins medisyne – liniment vir spierpyne of krampe en Camphor ointment vir hoes ens. En ek het daai tyd nie gedink dit is snaaks om die produkte in die huis te hê nie, ek het gedink almal het maar. Eers heelwat later het ek uitgevind ons is ver in die minderheid. Ek dink ons het dit gehad omdat dit Pa se ‘issue’ was, want ek kan nie dink dat Ma uit haar eie so-iets soos sassafras in haar kas sou aanhou nie.

Continue reading J R Watkins en Kie