J R Watkins en Kie

Toe ek Ma se kombuiskaste uitgepak het in April het ek nog op Watkins speserye in haar kas afgekom. DIT was ‘n trip down memory lane. Blikkies met die JR Watkins logo op. Die goed binne in was natuurlik kliphard uitgedroog. Ek onthou die vanilla en een wat altyd vir my baie snaaks/eienaardig was – sassafras. Ek weet nou nog nie waarvoor dit gebruik moes word nie. Ek weet nie of Ma dit ooit gebruik het nie.

Maar ons was gedokter met Watkins medisyne – liniment vir spierpyne of krampe en Camphor ointment vir hoes ens. En ek het daai tyd nie gedink dit is snaaks om die produkte in die huis te hê nie, ek het gedink almal het maar. Eers heelwat later het ek uitgevind ons is ver in die minderheid. Ek dink ons het dit gehad omdat dit Pa se ‘issue’ was, want ek kan nie dink dat Ma uit haar eie so-iets soos sassafras in haar kas sou aanhou nie.

Hulle het die eienaardige manier gehad van verkope te doen: deur-tot-deur. Maar ek dink dit was grotendeels op die platteland, en seker op die plase. Daar was altyd vergaderings en byeenkomste wat Pa bygewoon het om die verkoopsmense te bemoedig op die regte Amerikaanse manier met ‘n groot bohaai oor wie die beste verkope gehad het in ‘n maand. Daar was ‘n nuusbrief waarin die mense se fotos gepubliseer is met hulle sertifikate en wat ook al. Blykbaar het die oorspronklike J R Watkins in die 1800s so rondgegaan na plase en afgeleë plekke om sy ware te verkoop en dit het toe goed gewerk in die Suid-Afrikaanse platteland ook.

JR Watkins bestaan nog!! –

in Amerika:
https://www.jrwatkins.com/

https://www.jrwatkins.com/timeline.aspx

en hier in SA, hier in die Kaap, Paarl, Gauteng, Durban, en Limpopo maar blykbaar nie in Springs nie, volgens wat ek op die internet kan kry nie:

http://www.yellowpages.co.za/search/the+j+r+watkins+co+%28pty%29+ltd/springs/1

In New Era lyk dit asof Kellogg’s nou albei kante van die pad is?

http://www.mbendi.com/place/new-era-springs-gauteng-south-africa-4011321

Onthou julle die Watkins mense? Ken Amoils? Eric Leppan en Arthur Burmard? Daar was natuurlik ander ook, maar hierdie 3 gesinne van almal het die meeste in ons dampkring beweeg.

In die tyd dat ons in die Linden huis gaan bly het, het Pa en Ken Amoils besluit om op hulle eie te gaan, hulle eie besigheid te begin in kompetisie met Watkins. Ken Amoils was ‘n apteker en hy kon die veevoer waarop hulle wou fokus, meng. En hy het Pa nodig gehad om die administrasie en al die res te hanteer. Ek weet nie of dit die rede was hoekom ons in die Linden huis gaan bly het nie, en of daar dalk ‘n probleem was met die huis in Parkhurst. Ek het nooit daaraan gedink om te vra nie. Hulle maatskappy naam sou AMFOS wees. Die Am was natuurlik geneem van Amoils. Ma was nog so vies daaroor, dat daar niks van Pa in die naam was nie. Ek weet nie waarvoor die res gestaan het nie.

Maar ‘n paar maande later het die Amerikaners (Boult en Sievers, dis toe hulle in die Linden huis kom skop skiet en donder het) hulle weer oorgehaal om terug te kom Watkins toe, maar in die nuwe fabriek in New Era, Springs en met ‘n verhoging vir Pa na Algemene Bestuurder, en sekerlik vir Ken Amoils ook. Ek kan glad nie onthou wat Bolt en Sievers se voorname was nie. Ek verbeel my dit was Ed Sievers en Ray Boult maar ek sal glad nie my kop op ‘n blok lê daarvoor nie.

Watkinsete

Vlnr: Pa, onbekende Amerikaner, Ma, (Ed?) Sievers, (Ray?) Boult, Réne Amoils, Eric Leppan en Ken Amoils.  Professionele fotograaf, geen datum, maar ek sou raai ongeveer 1958.

Ken Amoils se vrou was Réne en hulle het 2 kinders gehad, ‘n donkerkop seun en net so ‘n donkerkopmeisie, en die meisie se naam was Darrell, maar die seun se naam kan ek nie onthou nie. Dalk was dit Simon of David. Bietjie later was daar nog ‘n baba, weer ‘n seun, verbeel ek my. En hulle het in daardie nuwe uitbreiding bokant ons in Selcourt gebly, waar die Nesers ook gebly het.

Terwyl Watkins nog in Johannesburg was, in Julesstraat 36, Jeppe, het ons een of twee keer vir die Amoils’ gaan kuier in ‘n groot ou huis in een van die ou gevestigde woonbuurte van Johannesburg met groot stewige, outydse huise. Ek onthou eintlik net die stoep, wat baie donker was omdat daar baie groot bome naby aan die huis was.

In daardie tyd nog was Dave Hawkins die bestuurder van Watkins. Hy het ook in ‘n groot huis gebly, ek dink dit was in Greenside, saam met sy vrou, Kaye en hulle seun, Richard, wat so oud was soos ek, of ‘n jaar ouer. Ons het ‘n keer of wat by hulle gaan tee drink want ek onthou, Richard het ‘n hobbelperd gehad, wat altyd my ideaal was om te hê. Dave Hawkins het sy eie vliegtuig gehad en dit was die vliegtuig wat êrens in Botswana of Noord-Kaap in ‘n noodlanding neergestort het. Een van die Kerspartytjies vir Watkins was by die ou lughawe buite Germiston gehou (Randse lughawe?) en ons het almal ritte gehad in so ‘n klein private vliegtuigie. Tannie Miemie het by ons gekuier daardie tyd en sy het saam met my opgegaan en heeltyd ‘n sakdoek voor my mond gehou, want sy was naar en het gesukkel.

Daar was ook ‘n mnr Bill Werth met ‘n mooi donkerkop vrou. Ek verbeel my hy was toe die verkoopsbestuurder. Mnr Hawkins en mev Werth het ‘n affêre gehad en die Werths en Hawkins’ is geskei en ek dink die twee wat die probleme veroorsaak het is toe getroud. Die eerste keer in my lewe dat ek van so-iets bewus geword het. Of altwee mans toe weg is van Watkins en dat dit die rede was dat Pa as bestuurder en oom Eric as verkoopsbestuurder aangestel kon word, weet ek nie, maar ek het so ‘n vermoede dat dit is wat gebeur het. Êrens is daar nog ‘n foto waar Ma saam met altwee die vroue by ‘n toonbank staan. Hulle was by een of ander skou waar hulle demonstrasies van die Watkins produkte gegee het.

Watkinsvroue

Vlnr: Ma, onbekende Watkins assistente, mev Hawkins en mev Werth.  Fotograaf onbekend, gedateer 1953.

Watkins het op ‘n stadium ook uitgestal by ‘n skou in Suid-Rhodesië waar die ou  Koningin moeder ook aangekom het. Ek het so ‘n idee dit was dalk dieselfde skou waarby Ma ook hierbo was.  Ons het ‘n foto van die vername dame, met die beskrywing Suid-Rhodesië, 1953.

Queenmum

Die fabriek in Springs het later nie net Watkins produkte verkoop nie, maar ook Mary King, wat Watkins se dogter se naam was, se skoonheidsprodukte verkoop en nog later, Max Factor kosmetiekware verpak. Pa het ons nog deur die fabriek geneem om die nuwe masjiene te sien wat daarvoor geïnstalleer was. Ek het groen naellak in daai tyd gekry, waarop ek baie trots was. Iemand in die fabriek het dit sommer vir my gegee. En die fabrieksmeisies (almal wit in daai dae) wat op die vervoerband gewerk het, het ons altyd agterna gestaar want ons was die grootbaas se kinders. Ek onthou een ouer tannie wat ons so met knikke van haar kop getel het: 1,2,3,4, soos ons verby geloop het.

Nadat ons reeds in die huis in Selcourt gebly het, het mnr Boult en een van die ander Amerikaners weer uitgekom vir ‘n besigheidstoer na die Watkins aanleg, en Pa het besluit hulle moet by ons huis onthaal word vir middagete. Arme Ma was baie op haar senuwees vir die ete. Toe ons van die skool af kom die middag sit die groot menere daar in die sitkamer, en mnr Boult met sy skoene bo-op Ma se bank. André was nog so geskok – ons was nooit toegelaat om so te sit nie, maar die man kan so ewe, en Ma sê niks!

In 1963 het óf die Amerikaners in Winona, Minnesota, op hulle eie, óf kop in een mus met Ken Amoils, besluit die maatskappy sal beter doen met ‘n apteker aan die roer van sake en Ken Amoils bo Pa aangestel. Hy het dadelik ‘n vreeslike aanmatigende houding ingeneem teenoor Pa, hom gesê om sy kantoor te ontruim want hy wat Ken is sal nou daar sit. Voor dit het hy ‘n kantoor bokant die fabriek gehad wat so oor die vloer uitgekyk het. Ek glo dit was nie al wat gebeur het nie, ek het nooit die res gehoor nie, maar die uiteinde was dat Pa sy bedanking ingedien het en daar uitgestap het. En toe Pa dit doen, het Eric Leppan dieselfde gedoen. Hy was die verkoopsbestuurder. Pa het vir oom Eric gewaarsku dat hy nie sy eie werk so in gevaar moet stel nie, dat dit nie maklik sal wees om ‘n ander werk te kry nie, maar oom Eric het voet by stuk gehou en gesê hy kan nie met sulke agterbaksheid saam leef nie. Uiteindelik het hy weer werk gekry by ‘n plek in Durban en Pa natuurlik by John Deere.

Pa en Ma het nooit weer kontak gehad met die Amoils’ daarna nie, hoewel hulle eenkeer vir Rene by dieselfde hospitaal in Pretoria gekry het waarheen Ma moes gaan vir haar kanker ondersoeke. Rene het toe ook kanker gehad en gesit en wag vir haar behandeling.

Eric Leppan was getroud met Joy en hulle het drie kinders gehad: Dennis, Gareth en Karen. Oom Eric was in die vloot en het ook op walvisjagters gewerk voor hy by Watkins uitgekom het. Daar was ‘n walvistand op die rakkie bokant hulle vuurherd in die eerste huis waar hulle gebly het in Selectionpark. Later het hulle ook in die Selcourt uitbreiding kom bly. Ek het met tannie Joy oor die foon gepraat terwyl ons in Ma se huis was. Ek wou haar vertel dat Ma oorlede is. Sy was jammer om dit te hoor en ek kon hoor sy is ook nie meer jonk nie, maar sy het nog baie geklink na haar jonger self. Aldrie die kinders is ook daar in Durban getroud en met kinders.

Ek onthou die tyd dat Pa die Dabchick gebou het hoe baie oom Eric kom kyk het wat daar aangaan. Hy kon ook baie mooi fluit, kan julle dit onthou? En hy kon ‘n appel in twee breek met sy kaalhande. DIT was vir my iets wonderliks. Hy het ook in elk geval graag op ‘n Saterdagoggend daar by Pa ‘n draai kom maak om te praat oor werksake. En eenkeer het klein Gareth tussen hulle kom staan terwyl hulle altwee diep gestaan en peins het oor iets, en vir hulle gevra: What you thinking ’bout?” Ons het nogal baie keer saam met hulle vleis gebraai en in Johannesburg nog toe ons in Parkhurst gebly het, het ons ‘n paar keer die Guy Fawkes aande saam met hulle in Greenside op ‘n oopstuk grond gaan hou, saam met baie ander mense, ‘n publieke viering van Guy Fawkes. Hy het baie straf gerook al die jare en geweier om te glo dat dit hom kwaad doen, maar op die ou ent toe Ma en Pa in Durban aangekom het, toe hulle vir die Leppans gaan kuier het, was hy bedlêend weens emfiseem.

Arthur Burnard en sy vrou Madeleine, en hulle drie kinders het in die volgende straat in Selcourt gebly naby Springs Girls High. Ek kan nie onthou of ek ooit geweet het wat Arthur se werk was by Watkins nie, maar ek vermoed dit was ook iets met verkope te doen. Dalk was hy ‘n streeksbestuurder. Hulle oudste kind was Cheryl, die seun was Darryl en toe was daar later nog ‘n dogtertjie gebore, maar haar naam kan ek nie onthou nie. Arthur en Madeleine het geskei kort na Pa by Watkins weg is en soos ek onthou is hulle weg uit Selcourt uit. Ek glo nie hulle het ooit weer vir Pa en Ma gesien nie.

Van al die mense by Watkins kan ek nie onthou dat daar een Afrikaansprekende was nie. Daar was seker, maar ek onthou nie dat ons ooit met hulle te doene gehad het nie. Selfs by die Kerspartytjies wat elke jaar gehou was, verbeel ek my was ons die enigste Afrikaanse kinders.

Sjoe, dit gaan net aan en aan. Die Amerikaners het nogal ‘n groot invloed op ons lewens gehad as ek nou so dink daaroor.

Daar was nog ‘n JR Watkins Amerikaanse familie wat in Selcourt kom bly het, aan die oorkant van Nigelweg, maar hulle was jonger as die ander Amerikaners. Die ma en die dogter was altwee Patricia en ek dink die ma was Pat en die dogter Tricia genoem. Die seuntjie was Buzz genoem. Ek kan nie die pa se naam onthou nie, maar hy en die seun het ook dieselfde naam gehad. Met een van Pa se verjaarsdae het die vrou gekom en ons hele sitkamer toegespin met toutjies. Elke gas wat gekom het se naam was op ‘n stukkie papier neergeskryf en dit was vasgebind aan die een ent van ‘n toutjie wat hulle dan moes begin volg en oprol deur die web tot hulle die ander punt in die hande kry en daar was ‘n klein geskenkie daaraan vasgemaak.

Baie stories wat nou losgekom het.

Leon onthou:

Een ding wat ek onthou was dat daar een aand by Watkins ‘n inbraak was en Pa en van ons het gaan kyk wat aangaan. Is ook nie seker of dit ‘n inbraak was nie? Maar daar het ons een van die mans gekry wat homself in ‘n kantoor toegesluit het? Of, dit is hoe ek die storie onthou.

Carl se onthou:

Die gebou van Watkins bestaan nog in Springs maar ek kan nie onthou wie daar in is nie. Ek het so paar maande gelede daar verby gery. Hulle kerspartye was die beste, een jaar het hulle dit by Springs lughawe gehou en kersfees vader het met valskerm uit ‘n vliegtuig gespring. Hulle het ook tafel tennis uitgegooi met nommers op. As jy die regte nommer kry het jy ‘n prys gekry. Darryl Burnhart het saam met my 3 maande kampe gedoen. Die Amoils het weer terug getrek Jhburg toe. Eenkeer in die engelse oggend koerant wat toe nog bestaan het, Daily Mail dink ek, gelees waar hulle sê dat mnr Amoils Watkins tot ‘n val gebring het. Die volgende oggend was daar ‘n brief van hom in die koerant waar hy beswaar aanteken. Ek die koerant uitknipsel vir pa gewys (ek was op Wits kollege daardie tyd) hy het net geglimlag.

Die storie wat jy onthou Leon onthou ek so: Die sekuriteit wag by Watkins het in ‘n kamer agter die fabriek gebly. Die aand het iemand sy kamer slot met draad toegedraai. Ek kan nie onthou hoe hy pa laat weet het nie maar ons het hom daar gaan uithaal.
Ek onthou ook sulke albasters wat hulle in die spuitkannetjies gebruik het wat baie hoog kon hop.
Van die os op die jas onthou julle die klein Coke botteltjies wat pa van Coca Cola ge bring het?
Die Amerikaner wat aan die anderkant van Nigel weg gebly het sulke blomkool ore gehad. Hy het dit glo gekry van American football te speel.

 Shani weer:

Pa het so baie die hele land vol gereis, Rhodesië, Suid en Noord, en tot in Kenia ‘n paar keer, en meeste kere saam met Eric Leppan en soms saam met Arthur Burnhard ook maar ek kan nie eenkeer onthou dat Ken Amoils saam gegaan het nie. Ek glo nie hy het enige konneksie, geen verhouding met die mense buite Springs gehad nie. Of dalk het hy op sy eie rondgereis dat ek nie daarvan geweet het nie.
Daar was ‘n vrou in Watkins wat elke jaar die Kerspartytjies gereël het, wat gesorg het vir die interessante partytjies. Ek kan die Kersvader wat uit die lug gespring het onthou. Maar ek kan nie die vrou se naam onthou nie. Ek onthou dat ons soveel roomys kon eet as ons wou by een van daai partytjies. Dit was een op die grasperk buite die fabriek in New Era.
Die Amerikaner met die blomkoolore was ‘n groot ou, ek sal glo hy het Amerikaanse voetbal gespeel. Maar hy het ook ‘n rug probleem gehad, dalk ook van die voetbal. Ons was uitgenooi na die seuntjie se verjaarsdagparty, ek ook al was ek ver’s te oud vir julle kleintjies, maar die ma het vir ons kaartjies gekry vir ‘n Disney fliek in die dorp. Toe Ma ons by hulle huis aflaai het die vrou net daar aangekom met die man wat sy by die hospitaal moes gaan haal na hy reeds paar dae in die hospitaal was na hy ‘n rugoperasie gehad het. Ek onthou hoe versigtig sy hom probeer uithelp het uit die motor en die groot ou wat op haar leun en die gesteun om hom in die huis en in die bed te kry voor ons almal saam met haar in die kar (‘n groot stasiewa) in is dorp toe.
‘n Tradisie wat in die ou Watkins in Jeppe gehou was maar wat later uitgesterf het:
op een dag van die jaar, en ek kan nie die spesifieke datum onthou nie, moes almal strikdasse werk toe dra. (Dalk was dit die verjaarsdag van die oorspronklike J R Watkins en dalk het hy altyd strikdasse gedra?? Ek weet nie). Die ouens wat met ‘n gewone das by die werk aangekom het se das is kort afgesny. Daar was een ou veral wat dit sy werk gemaak het om elke jaar rond te loop en die ander se dasse so af te sny. Pa het kom vertel van die manewales, maar een jaar het een ou ‘n baie mooi sy das aangehad en vergeet van die hele storie en die ander ou het nog steeds sy das afgesny. Die man was absoluut woedend en dit het groot marakkas in die kantoor veroorsaak.  Van die ander stories met die dasse was dat ouens aspris met ou dasse werk toe gekom het sodat die dasse so vernietig kan word. Ander weer het met ‘n das aan ingekom en voor die ou met die sker verbygeloop sodat hy die das kan sien maar wanneer die 2e ou later in kom (hulle het natuurlik almal aparte kantore gehad daai dae net die typing pool was in een groot lokaal ) om sy das te sny dan sit die eerste een daar met ‘n strikdas.  Al sulke stories. Een ou het sy afgesnyde das van die vorige jaar gedokter sodat dit nog heel moet lyk maar sodra die ou daaraan trek om dit af te sny val dit in twee stukke uitmekaar.
Ek wonder of die spul Watkins maatskappytjies wat oorgebly het ‘n hoofkantoor het. Dit sal tog sin maak om hulle Watkins goed saam van Amerika in te voer eerder as elkeen op sy eie? Ek kan nie uitmaak uit wat ek op Google gekry het of daar ‘n hoofkantoor is nie.

Leave a Reply

Your email address will not be published.