Pa se storie

Pa en Ma het hulle stories aan Petr vertel een keer terwyl hulle hier gekuier het. Hier is wat Petr neergeskryf het van Pa:

Pa is gebore in Hanover in die Oos-Kaap maar hulle het getrek nog voor hy veel ouer was. Eerste Krugersdorp toe.

Voor sy geboorte was daar reeds ‘n babasussie gebore maar sy het nie lank geleef nie. In die tyd het die gesin in Suid-Rhodesië gewoon. Na Pa was daar nog 9 kinders gebore waarvan een ‘n stilgeboorte was (‘n tweeling vir tannie Miemie) en ‘n ander een (tussen oom Koos en tannie Hanna) wat ook net ‘n paar maande geleef het.

In 1922 toe Pa 4 jaar oud was en hulle nog in Krugersdorp gebly het, het hulle die mynstaking beleef. Die stakers het voor hulle huis verby geloop en hy het agter die tuinmuurtjie platgeval omdat hy bang was hulle sou hom skiet.

Oupa Zack het sy eie besigheid gehad, ‘n motorwerkswinkel, maar hy was te goedgelowig en het mense te veel krediet gegee sodat sy besighede nooit goed gedoen het nie, en hy bankkrot gespeel het.

Daarna het hulle op ‘n plasie op Kliptown gewoon, waar Soweto vandag is. Oupa Zack het as motorwerktuigkundige vir ander mense gewerk en heen en weer gependel met die trein. Hier het Pa na ‘n plaasskooltjie gegaan met ‘n donkiekar saam met ander kinders.

In 1928 het hulle Springs toe getrek. Die eerste steenkoolmyne het daar oopgemaak. In 1931 het hy Voortrekker Hoërskool in Boksburg toe gegaan. Dit was een van die enigste 3 hoërskole op die Rand. Die ander twee was in Johannesburg en Krugersdorp. Hy het matriek geslaag in 1935.

In 1936 het hy by Barclays Bank in Springs begin werk tot 1943. Hy was aangestel op die toonbank daarna as teller en toe kassier. Daarna is hy na die nuwe Volksbank se Johannesburg tak, naby die biblioteekgebou in die middestad. Daar het hy vir een jaar gewerk.

In 1944 het hy as hoofrekenmeester vir Coca Cola gaan werk in Auckland Park, Johannesburg. In 1945 is hy en Ma getroud.

In 1948 het hy vir J R Watkins begin werk as rekenmeester vir die maatskappy. In 1956 skuif die fabriek na New Era, in Springs en hy word as algemene bestuurder aangestel.

In 1963 het hy by John Deere aangesluit en vir 18 jaar vir hulle gewerk tot hy afgetree het in 1981. Hy was eers aangestel as personeelbestuurder, toe bemarkingsbestuurder en daarna as algmene bestuurder en uiteindelik as besturende direkteur.

Daarna het hy vir nog ‘n paar jaar as mentor opgetree vir die Kleinsake-ontwikkelings korporasie (KSOK / SBDC).

Wat ek self onthou, was dat Pa vertel het,  terwyl Pa by Coco Cola gewerk het kon hulle soveel Coke drink as hulle wou.  Soos ek dit verstaan het, was daar ‘n masjien soos ‘n koffie masjien waaruit elkeen vir homself kon gaan Coke tap.

 

Leave a Reply

Your email address will not be published.