Dahlias

8 September 2015

André:

In Selcourt het Ma altyd Dahlias geplant. Langs die lae heiningtjie wat die swembad aan die oostekant begrens het. Tussen die swembad en die vrugtebome.

Massiewe dahlias, langer as ek, daai tyd. As mens van die huis af geloop het na die vrugtebome en die aanttrekhuisie, was daar ’n groot moerbeiboom aan die linkerkant en dan die dahlias. In die grond onder die moerbeiboom en die dahlias het ons baie gespeel.

Paaie aangelê, huise gebou en plase bedryf. Met karretjies (was dit Dinkietoys?) op die paaie gery. Ons het riviere gemaak en water, dink ek van die swembad, aangedra en in die voortjies gegooi. Baie frustrerend dat die water so vinnig in die grond bly wegsypel het, nog voor dit die volle lengte van die rivier gevloei het.

Daar kon ek my in ’n fantasie wêreld verloor en ure lank op die grond rondkruip van huis na huis. Garage onder die grond gemaak, met een van pa se skroewedraaiers in die grond uitgegrou, ’n dak van stokkies en blare bo-oor. Met die huis bo-op die garage van modder gemaak. Wanneer dit droog was, was daai grond darem baie hard om gate in te grawe!

Die dahlias was groot en dig. Kan onthou dat ek meer as eenkeer onder die dahlias gelê en vir Ma weggekruip het. Hoekom weet ek nie meer nie.

Die moerbeiboom se blare het ons gebruik om die sywurms mee te voer.

Ek kan nie onthou dat ons regtig kleilat gegooi het daar nie. Die grond was nie kleierig genoeg vir dit nie. Maar die kweperlaning se latte het ’n baie lekker kleilat gemaak. Kan onthou dat ons agter die skool in die Steenbokspruit kleilat gegooi het, maar dit was saam met skoolvriende. Daar was heerlike, taai klei in die walle van die spruit.

Ek kan jou wrintiewaar nie meer die name van die skoolvriende van laerskool onthou nie. Ek dink een ou se naam was Albert. Daar moes seker darem ook ’n Johan gewees het. Ek onthou die erf van een van hulle (dink dit was Johan) se huis. Hulle het aan die anderkant van die spruit, nie ver van die skool af nie, gebly. Tussen die spoorlyn en die spruit.

Carl:

Daar was, nie baie goeie nie, klei in die hoek waar die kweperbome nie so goed gegroei het nie. Ons het van die klei meestal klei osse gemaak. Het ‘n paar keer klei lat gegooi maar ma het dit gestop, bang vir die vensters.

André, van jou laerskool maats onthou ek net vir ‘n outjie wie se van Jacobs was, ek dink hy was Johan. Dan was daar ‘n Andre Smit, sy boetie Pierre was saam met Leon. Dan hoewel hulle nie eintlik maats was nie maar tog ‘n deel van ons kinder wees uitgemaak het was die Botha’s. Louis, hy was saam met Shani, Tienie, hy was jou ouderdom André of ‘n jaar ouer, en dan Andre wat tussen my en jou was. Andre het ek later in Regiment Springs te doen mee gehad hy was ‘n sersant daar, maar het baie lekker met my gesels oor die ou dae.

Shani:

Ek onthou ook vir Johan Jacobs wat saam met jou was André, hy het ‘n ouer broer gehad, Louis, donkerkop ou, wat saam met my in die klas in die laerskool was.

En die Bothas, ja, die Bothas. Daar was ‘n ouer broer ook, heelwat ouer as ons, ‘n Derick of ‘n Dewald of ‘n Dennis of so-iets. Hy was al op hoërskool toe ek in Std 3 daar aangekom het. Louis en Tienie was alewig aan die amok maak, op die bus huis toe in die middae veral, en in die klas. Maar Louis het graag vir almal wat wou weet vertel, Tienie is met ‘n spanner in die hand gebore, hy kon enige masjien regmaak. Ek dink Tienie was ‘n jaar voor jou André.

8 September 2015

Leave a Reply

Your email address will not be published.