Oom Meyer vertel

Oupa Zacharias de Beer is gebore in Murraysburg op 1 November 1886 en oorlede

30 Mei 1962. Hulle was vyf seuns en drie dogters waarvan hy die middelste seun

was.  Sy pa is in 1890 oorlede en sy ma het toe met agt kinders gesit sonder enige

inkomste. Die kinders moes toe vroeg gaan werk om te help. Oupa het net tot

standerd 3 skool gegaan. Hy is later as jong man na Colesberg waar hy in ‘n garage

begin werk het en toe ‘n motorwerktuigkundige geword het. Dit was daar waar hy

ouma Kitty ontmoet het. Hulle is in 1915 getroud.

Ouma Kitty is op 28 Junie 1892 gebore in die distrik Colesberg en oorlede op 30

September 1988. Tydens die boereoorlog het haar ouers met hulle as kinders voor

die Engelse gevlug om nie in die konsentrasiekampe te beland nie.  Hulle het na

Portugees Oos-Afrika (Mosambiek) gevlug. Op 20 Februarie 1901 is hulle na

Portugal verban waar hulle tot na die oorlog gebly het.

Ouma het gedurende 1910 in Graaff-Reinet as onderwyser geleer. Sy het in die

Reinethuis gebly wat vandag ‘n monument is.

In 1917 is oupa hulle in Suid-Rhodesië (Zimbabwe) waar hulle dogter op 22

Februarie 1917 gebore is maar na twee maande oorlede is. Daarna is hulle weer

terug  Colesberg toe waar Zackie en Boet gebore is.

In 1921 is hulle in Krugersdorp waar Willa en Rina gebore is. Miemie is in Kliptown,

Johannesburg gebore. In 1927 is oupa hulle weer in Springs waar ek, Koos en

Hanna gebore is.

Oupa se ouer broer Chrisjan en sy oudste seun het op Kliptown op ‘n plaas met

groente en melkbeeste geboer. In 1941 is Kliptown deur die staat uitgekoop vir die

uitbreiding van Soweto. Hulle het toe in 1942 ‘n plaas van 1200 morge ongeveer 16

kilometer buite Potchefstroom gekoop. Die plaas se naam was Welgegund. Oupa

het in daardie tyd maagswere gehad en het gesukkel om sy ambag te doen.

Oupa het toe in 1943 50 morge en die plaasskool bus by sy broer gekoop en

soontoe getrek. Hy het toe die plaashuis gebou met arbeiders. Hulle het die

fondasies gegrawe, plat klippe in die veld bymekaar gemaak en die fondasie

daarmee uitgepak. Miershope is aangery met kruiwaens, opgebreek en met boukalk

gemeng vir die klei waarmee die mure gebou is. Die pleister binne is ook daarmee

gedoen. Populierpale is daar by ‘n plaas langs die Mooirivier gekry vir die dakkappe

en dekgras is by die arbeiders gekry. Die vloere is ook van die miershoopklei

gemaak waarna viniel opgesit is. Die drie slaapkamers het nie houtdeure gehad nie

maar is met gordyne toegemaak. Net die badkamer het ‘n houtdeur gehad.

Daar was nie veel geboer op die plaas nie en die skoolbus was maar die enigste

inkomste. In Augustus 1943 is ek koshuis toe vir twee jaar by die ambagskool wat

net twee kwartale gehad het. Daar was ook nie koshuisnaweke nie. Slegs

gedurende Junie en Desember kon ek plaas toe gaan.

In 1950 het die dokter gesê dat oupa moet vir ‘n maagoperasie gaan. Ek het my

vakleerlingskap toe klaargemaak en in Maart 1950 plaas toe gegaan om die

skoolbus te bestuur. Ek en Miemie het ‘n paar maande op die plaas gebly. In

daardie tyd het ek vir Ina ontmoet. Toe oupa weer die bus kon bestuur is ek

Potchefstroom toe om daar te gaan werk. Ek het dan Vrydagmiddae na werk my

fiets gevat en plaas toe gery en dan weer Maandagoggende vroeg terug werk toe.

In 1954 het oupa die plaas verkoop en in die dorp ‘n huis gekoop. Dit was op Die

Bult uitbreiding gewees. In 1956 is hulle na Freddie en Rina toe in Linden uitbreiding.

In 1961 het hulle na Welgedacht in ‘n woonstel naby Ben en Willa gebly. Dit was

daar waar oupa in 1962 oorlede is.

Daar waar die plaasskool was, was ook ‘n Indiër plaaswinkel waar petrol ook

verkoop is. As oupa die kinders by die skool afgelaai het moes hy dan daar wag tot

die skool uitgekom het. Hy het dus altyd geselskap gehad terwyl hy gewag het. Toe

oupa oorlede is het my skoonpa wat daar skoolgehou het vir David die Indiër

daarvan vertel. Die het toe ‘n engelse brief geskryf vir die DE Beer familie wat hy toe

vir ouma Kitty gestuur het. Hy wou net vertel dat oupa hulle almal dieselfde behandel

het ongeag kleur.

Wat die perd aanbetref, ek het daar vroeg in 1951 ‘n perd gekoop wat ‘n veldperd

was wat nooit in ‘n stal of kamp gebly het nie. Ek het die perd vir 10 pond gekoop en

die saal en toebehore ook vir 10 pond. Ek het dan gewoonlik die perd op Saterdae

opgesaal en in die veld gaan rondry. Ek het selfs vir Ina ‘n paar keer met die perd

gaan kuier. Die afstand was ongeveer 12 kilometer. In 1952 moes ek weer die perd

verkoop want ek wou trou. Daar sou dus nie meer kans wees om elke Saterdag te

kan  ry nie.

Nog iets wat ek kon onthou:

Ek en ouma Kitty was by jou doop. Ouma Kitty het die naweek by jou pa-hulle

gekuier en ek het die Sondagoggend van Springs af gekom. Die kerk was in

Jorrisonstraat geleë. Jou ouers het daardie tyd op die hoek van Jorrison- en De

Beerstraat in ‘n woonstel gebly. Terwyl ons teruggestap het van die kerk af, het

ouma Kitty vir jou ouers gevra of hulle die skrifgedeelte wat die predikant gelees het

kon onthou, want dit was dieselfde gedeelte wat tydens hulle troue gelees was.

Leave a Reply

Your email address will not be published.