Stories oor die Selcourt huis

 

Ons vier voor die Selcourt huis
Ons vier voor die Selcourt huis

Shani:

Ek onthou oom Smal, Thinus se pa, wat die pilaar in die sitkamer opgesit het wat die skoorsteen vir die kaggel geword het. Dit was ‘n asbespyp en dit was sy idee om dit toe te draai met tou, styf vasgedruk en die hele spul dan wit te verf.

Hy het ook die kaggel self ingesit en die leiklip daar om ingebou.   En ‘n paar leiklippe oopgekloof om die grein aan die binnekant te wys, en toe het ek boesmantekeninge op twee van hulle aangebring. Ek dink nie hy was te beïndruk met my nie.

Met die skoorsteen se opsit op die dak moes hy en pa op die dak klouter en arme pa het dit nie geniet nie. Sy hoogtevrees het dit nie waardeer nie. Pa het dit gedoen, maar hy sou verkies het om dit nie te doen nie.

 

Carl:

Oom Futter was ‘n skrynwerker en aan een hand was ‘n vinger weg, ‘n saag het dit afgevat. Soos Leon sê, hy het  die bunks in ons kamer gebou. Die skroewerdraaier storie was dat André en Leon met skroewedraaiers in die grond ingegooi het toe Leon s’n uit sy hand gegly het en in André se nek gaan vassit het.

Continue reading Stories oor die Selcourt huis

Carl onthou Oupa Zack

oupazack

Foto: Pa, 1952

Ek wou al lankal gehad het ons ouers en ooms en tannies moet hulle stories neerskryf veral oupa Zack se stories. Ons weet ietsie van Ouma Kitty se jong dae want daar is daarvan gepen maar Oupa s’n nie. Ek wil vertel wat ek onthou en dan kan julle bylas.

In die kolonie het oupa saam met maats voëltjies gevang en dit gaar gemaak. Ek kan nie onthou hoe hulle die voëltjies gevang het nie, maak ook nie saak nie. Daar het ‘n klompie Engelse seuns probeer maats maak en wou ook voëltjies eet. Oupa-­hulle het toe veldmuise of rotte gevang, die gaar gemaak en aan die Engelse seuns voorgesit as gaar voëls.

Die ander een is waar hy, ook in die Karoo, met ‘n splinternuwe hoed op met ‘n volstruis eier gespeel het. Die eier het hy vir een of ander rede in die lug gegooi en dit het kardoems op sy kop met sy nuwe hoed te lande gekom. Einde van die hoed.

Continue reading Carl onthou Oupa Zack

Oupa Carl

Herinneringe uit ‘n e-pos van Ma:

Ek het ‘n paar notas van my Pa geskryf, maar met al my huisskoonmakery vanoggend het ek dit verlê. Nou stuur ek maar wat ek kan onthou. My Pa was ‘n gulhartige mens, maar soos ek onthou was hy nooit ‘n mynkaptein nie. Hy het nadat hy na die myn gegaan het op die “crushers”/stampers gewerk, wat verskriklik lawaaierig was. Dit kan jy jou indink want dit is waar die klip wat van ondergrond af gebring word stukkend gestamp word. Hoe lank hy daar gewerk het weet ek nie. Ja, eers moet ek seker vertel dat hy ‘n baie ongelukkige kindertyd gehad het.  Sy pa het vroeg gesterf, weet nie hoe nie en toe moes sy ma vir hulle klompie sorg wat in daardie tyd baie moeilik was vir ‘n rou. Sy het seker maar wasgoed gedoen en my pa moes vroeg uit dieskool wat ‘n groot jammerte was want hy was baie intelligent.  Hy het vir een van die ryker ooms skape opgepas en omtrent geen vergoeding of baie min gekry Dit het hom verbittterd gemaak, nie dat hy ooit veel vertel het van sy kinderdae nie, maar hy het niks van ‘n plaas gehou nie. Sy ma het lateraan Boksburg toe getrek met hulle. As ek reg uitwerk was hulle sowat sewe of agt kinders. In Boksburg het sy oudste broer, Antonie, tragies gesterf. Skynbaar moes hy die slingel draai om water uit die put te kry toe die slinger uit sy hand gegly het en dit hom teen sy kom gekap het. Hy is oorlede daarvan.

My pa het toe op die myn gaan werk, ek dink dit was toe by die “crushers”. Na ‘n ruk is hy daar weg en het sy eie besigheid as bouaannemer begin.

Continue reading Oupa Carl