Van: André
Ek onthou nogal redelik die huis in Linden, Derdestraat. Het ’n ruk terug die huis in Linden gaan soek, maar kon dit glad nie kry nie. Niks daar lyk vir my bekend nie. Hulle het die erf onderverdeel, lyk my en nog ’n huis op die erf gebou, neem ek aan. Weet nie of die ou huis gesloop is nie. Ek kon nie ’n huis nommer 10 in Derdestraat kry nie.
Ek onthou dit was ’n baie groot erf en dat die erf skuins afgeloop het na die straat se kant toe. So skuins dat die fondasies aan die straat se kant van die huis baie hoog opgebou was. Mens het opgekyk na die huis toe. Huis het ver van die straat af gesit. Huis was liggeel met ’n rooi dak – of was dit nou die bure se huis?
Onder die huis, tussen die fondasies was ’n kelder. Die ingang het langs die huis gesit en die kelder was ’n baie fassinerende plek. Baie klein deurtjie wat eintlik gesluit was. Mens moes gebukkend onder die balke loop. Donker en het vol ou meubels gestaan wat die eienaar seker daar gestoor het. Was vas oortuig, iewers in die kelder was ’n ou trommel vol skatte. Goud, juwele en seerower “loot”! Maar kon dit nooit vind nie al het ons hoe hard gesoek daarna. Baie spinnerakke.