Tag Archives: ons huise

Dahlias

8 September 2015

André:

In Selcourt het Ma altyd Dahlias geplant. Langs die lae heiningtjie wat die swembad aan die oostekant begrens het. Tussen die swembad en die vrugtebome.

Massiewe dahlias, langer as ek, daai tyd. As mens van die huis af geloop het na die vrugtebome en die aanttrekhuisie, was daar ’n groot moerbeiboom aan die linkerkant en dan die dahlias. In die grond onder die moerbeiboom en die dahlias het ons baie gespeel.

Paaie aangelê, huise gebou en plase bedryf. Met karretjies (was dit Dinkietoys?) op die paaie gery. Ons het riviere gemaak en water, dink ek van die swembad, aangedra en in die voortjies gegooi. Baie frustrerend dat die water so vinnig in die grond bly wegsypel het, nog voor dit die volle lengte van die rivier gevloei het.

Continue reading Dahlias

Nog stories oor Selcourt

Selcourt huis voor die swembad
Selcourt huis voor die swembad

Carl:

12 Aug 2015

Ek onthou nie veel van Linden nie, net die hoë trappe na die voordeur en die kelder. Ek onthou slangetjie trek in Selcourt waar een van ons slange ook doodgeslaan was, aan ‘n lang stok opgetel en toe verbrand was. Een aand het die ryk boer van oorkant af uitgekom met sy (hael?)geweer, ons het baie stil agter ons muurtjie gelê totdat hy weer ingegaan het. Van die bure onthou ek Gary skuins oorkant wat sy vinger in ma se tee gedruk het. Schultz’se (Penelope en Christopher), die ryk mense oorkant die straat, Jerry en (kan nie die ander een onthou nie, Joodjies wat onder langs die rykmense gebly het. Carrots bo in die straat en die Joostes. Shani jy kan gerus ‘n boek skryf oor hulle.

  Met Selcourt NG kerk se 50ste bestaanjaar vieringe het ons weer verby die huis in Halkynweg gestap. Hy het toe gelyk soos op die (Google) foto. Die erf is onderverdeel met ‘n huis wat op ons grasperk staan.

Continue reading Nog stories oor Selcourt

Huis in Parkhurst (2)

Shani:

André se onthou van die Parkhurst huis het baie herinneringe los gemaak by my.

Ek onthou ook die groot stoep voor die huis. Die begin van Pa se stoepe? Ons het op somersaande daar buite op die stoep gesit na ete (nog voor die tyd van tv) veral oor naweke en dan het Pa vir ons vertel van die sterre terwyl ons gesit en kyk het.

Soos André onthou, was Ma-hulle se kamer die eerste kamer links uit ‘n gang van die voordeur af. Aan die regtekant was die sitkamer wat ek dink ons ook by tye gebruik het as ‘n eetkamer.

Ek onthou die diefwering met die blaartjies patroon en daar was baie mooi lampkappe in die huis. Ek dink dit was ‘n huurhuis soos ook die Linden een en voor ons in die huis gebly het was daar Hollanders in die huis. Of dit die eienaars was en of hulle ook net gehuur het weet ek nie. Ek onthou die man by ‘n tafel sit onder een van die lampkappe, so ons het seker na die huis gaan kyk voor ons daar ingetrek het. Vandag is daardie diefwering nie meer daar nie, en dit lyk asof die groot stoep ook verdwyn het, dalk in die huis ingebou. Die huis het nie ‘n boonste verdieping gehad in daai dae nie.

Continue reading Huis in Parkhurst (2)

Huis in Parkhurst

Van:  André

Van die huis in Parkhurst het ek heelwat herinneringe, maar snaaks genoeg feitlik niks van die binnekant van die huis nie. Kan glad nie die uitleg van die huis onthou nie.

Weet daar was ’n stoep voor, waar die foto van ons geneem was.

Die venster wat op die stoep uitgekyk het, langs die voordeur, was ma-hulle se kamer. As ek reg onthou.

Soggens na pa en ma opgestaan het het ek in hulle bed gaan inklim. Kan onthou hoe lekker warm die onopgemaakte bed nog was van hulle liggaamshitte. Ma was doenig in die kamer, weet nie met wat nie. Die radio het gespeel en ek het heerlik snoesig daar gelê en sluimer met die radio in die agtergrond. Kan glad nie onthou dat enige van julle ander ook saam in die dubbelbed kom klim het nie.

Continue reading Huis in Parkhurst

Huis in Linden

Van: André

Ek onthou nogal redelik die huis in Linden, Derdestraat. Het ’n ruk terug die huis in Linden gaan soek, maar kon dit glad nie kry nie. Niks daar lyk vir my bekend nie. Hulle het die erf onderverdeel, lyk my en nog ’n huis op die erf gebou, neem ek aan. Weet nie of die ou huis gesloop is nie. Ek kon nie ’n huis nommer 10 in Derdestraat kry nie.

Ek onthou dit was ’n baie groot erf en dat die erf skuins afgeloop het na die straat se kant toe. So skuins dat die fondasies aan die straat se kant van die huis baie hoog opgebou was. Mens het opgekyk na die huis toe. Huis het ver van die straat af gesit. Huis was liggeel met ’n rooi dak – of was dit nou die bure se huis?

Onder die huis, tussen die fondasies was ’n kelder. Die ingang het langs die huis gesit en die kelder was ’n baie fassinerende plek. Baie klein deurtjie wat eintlik gesluit was. Mens moes gebukkend onder die balke loop. Donker en het vol ou meubels gestaan wat die eienaar seker daar gestoor het. Was vas oortuig, iewers in die kelder was ’n ou trommel vol skatte. Goud, juwele en seerower “loot”! Maar kon dit nooit vind nie al het ons hoe hard gesoek daarna. Baie spinnerakke.

Continue reading Huis in Linden