Herinneringe uit ‘n e-pos van Ma:
Ek het ‘n paar notas van my Pa geskryf, maar met al my huisskoonmakery vanoggend het ek dit verlê. Nou stuur ek maar wat ek kan onthou. My Pa was ‘n gulhartige mens, maar soos ek onthou was hy nooit ‘n mynkaptein nie. Hy het nadat hy na die myn gegaan het op die “crushers”/stampers gewerk, wat verskriklik lawaaierig was. Dit kan jy jou indink want dit is waar die klip wat van ondergrond af gebring word stukkend gestamp word. Hoe lank hy daar gewerk het weet ek nie. Ja, eers moet ek seker vertel dat hy ‘n baie ongelukkige kindertyd gehad het. Sy pa het vroeg gesterf, weet nie hoe nie en toe moes sy ma vir hulle klompie sorg wat in daardie tyd baie moeilik was vir ‘n rou. Sy het seker maar wasgoed gedoen en my pa moes vroeg uit dieskool wat ‘n groot jammerte was want hy was baie intelligent. Hy het vir een van die ryker ooms skape opgepas en omtrent geen vergoeding of baie min gekry Dit het hom verbittterd gemaak, nie dat hy ooit veel vertel het van sy kinderdae nie, maar hy het niks van ‘n plaas gehou nie. Sy ma het lateraan Boksburg toe getrek met hulle. As ek reg uitwerk was hulle sowat sewe of agt kinders. In Boksburg het sy oudste broer, Antonie, tragies gesterf. Skynbaar moes hy die slingel draai om water uit die put te kry toe die slinger uit sy hand gegly het en dit hom teen sy kom gekap het. Hy is oorlede daarvan.
My pa het toe op die myn gaan werk, ek dink dit was toe by die “crushers”. Na ‘n ruk is hy daar weg en het sy eie besigheid as bouaannemer begin.