Tag Archives: Parkhurst

Klavierlesse in Parkhurst

André:

Hi Shani, so van klavierlesse gepraat,

Ek onthou dat ek en jy in die middae per fiets moes ry om klavierlesse te gaan neem.  Dit

was ’n lang pad en ver om te ry – soos dit vir my gevoel het. Moes seker gewees het toe

ons in Linden gebly het.

Daar was so ’n lang opdraende. Steil pad wat altyd ’n stryd was om teen uit te ry.

Bloekombome langs die pad. Halfpad teen die opdraende uit het ons eers ’n ruskansie

gevat en van die melk gedrink wat ma vir ons saam gegee het. In ’n vierkantige glasbottel

met ’n opskroef prop. Dalk ’n ou Worcestersous bottel.

Continue reading Klavierlesse in Parkhurst

Huis in Parkhurst (2)

Shani:

André se onthou van die Parkhurst huis het baie herinneringe los gemaak by my.

Ek onthou ook die groot stoep voor die huis. Die begin van Pa se stoepe? Ons het op somersaande daar buite op die stoep gesit na ete (nog voor die tyd van tv) veral oor naweke en dan het Pa vir ons vertel van die sterre terwyl ons gesit en kyk het.

Soos André onthou, was Ma-hulle se kamer die eerste kamer links uit ‘n gang van die voordeur af. Aan die regtekant was die sitkamer wat ek dink ons ook by tye gebruik het as ‘n eetkamer.

Ek onthou die diefwering met die blaartjies patroon en daar was baie mooi lampkappe in die huis. Ek dink dit was ‘n huurhuis soos ook die Linden een en voor ons in die huis gebly het was daar Hollanders in die huis. Of dit die eienaars was en of hulle ook net gehuur het weet ek nie. Ek onthou die man by ‘n tafel sit onder een van die lampkappe, so ons het seker na die huis gaan kyk voor ons daar ingetrek het. Vandag is daardie diefwering nie meer daar nie, en dit lyk asof die groot stoep ook verdwyn het, dalk in die huis ingebou. Die huis het nie ‘n boonste verdieping gehad in daai dae nie.

Continue reading Huis in Parkhurst (2)

Huis in Parkhurst

Van:  André

Van die huis in Parkhurst het ek heelwat herinneringe, maar snaaks genoeg feitlik niks van die binnekant van die huis nie. Kan glad nie die uitleg van die huis onthou nie.

Weet daar was ’n stoep voor, waar die foto van ons geneem was.

Die venster wat op die stoep uitgekyk het, langs die voordeur, was ma-hulle se kamer. As ek reg onthou.

Soggens na pa en ma opgestaan het het ek in hulle bed gaan inklim. Kan onthou hoe lekker warm die onopgemaakte bed nog was van hulle liggaamshitte. Ma was doenig in die kamer, weet nie met wat nie. Die radio het gespeel en ek het heerlik snoesig daar gelê en sluimer met die radio in die agtergrond. Kan glad nie onthou dat enige van julle ander ook saam in die dubbelbed kom klim het nie.

Continue reading Huis in Parkhurst