Tag Archives: seilbote

Stories oor die Selcourt huis

 

Ons vier voor die Selcourt huis
Ons vier voor die Selcourt huis

Shani:

Ek onthou oom Smal, Thinus se pa, wat die pilaar in die sitkamer opgesit het wat die skoorsteen vir die kaggel geword het. Dit was ‘n asbespyp en dit was sy idee om dit toe te draai met tou, styf vasgedruk en die hele spul dan wit te verf.

Hy het ook die kaggel self ingesit en die leiklip daar om ingebou.   En ‘n paar leiklippe oopgekloof om die grein aan die binnekant te wys, en toe het ek boesmantekeninge op twee van hulle aangebring. Ek dink nie hy was te beïndruk met my nie.

Met die skoorsteen se opsit op die dak moes hy en pa op die dak klouter en arme pa het dit nie geniet nie. Sy hoogtevrees het dit nie waardeer nie. Pa het dit gedoen, maar hy sou verkies het om dit nie te doen nie.

 

Carl:

Oom Futter was ‘n skrynwerker en aan een hand was ‘n vinger weg, ‘n saag het dit afgevat. Soos Leon sê, hy het  die bunks in ons kamer gebou. Die skroewerdraaier storie was dat André en Leon met skroewedraaiers in die grond ingegooi het toe Leon s’n uit sy hand gegly het en in André se nek gaan vassit het.

Continue reading Stories oor die Selcourt huis

Carl onthou Oupa Zack

oupazack

Foto: Pa, 1952

Ek wou al lankal gehad het ons ouers en ooms en tannies moet hulle stories neerskryf veral oupa Zack se stories. Ons weet ietsie van Ouma Kitty se jong dae want daar is daarvan gepen maar Oupa s’n nie. Ek wil vertel wat ek onthou en dan kan julle bylas.

In die kolonie het oupa saam met maats voëltjies gevang en dit gaar gemaak. Ek kan nie onthou hoe hulle die voëltjies gevang het nie, maak ook nie saak nie. Daar het ‘n klompie Engelse seuns probeer maats maak en wou ook voëltjies eet. Oupa-­hulle het toe veldmuise of rotte gevang, die gaar gemaak en aan die Engelse seuns voorgesit as gaar voëls.

Die ander een is waar hy, ook in die Karoo, met ‘n splinternuwe hoed op met ‘n volstruis eier gespeel het. Die eier het hy vir een of ander rede in die lug gegooi en dit het kardoems op sy kop met sy nuwe hoed te lande gekom. Einde van die hoed.

Continue reading Carl onthou Oupa Zack