Per e-pos: Desember 2010
12 Desember 2010; 9:19 nm
Van: Shani
Aan: André, Carl, Leon
Hi Julle
ons gesels vanaand oor Voortrekkers en kampe endiesmeer (Rudolf se meisie het toe sy twaalf jaar oud was op ‘n Voortrekkerkamp ‘n outomatiese geweer gekry om mee te skiet, hoor ek nou by Petr – hulle het gister gaan skyfskiet. Klink bietjie anders as die Voortrekkerkampe wat jy op gegaan het, Carl) Anyway, en vandaar na ons vakansies saam met Pa en Ma en hoe ons gaan kamp het met ‘n karavaan by Vishoek en by Kariba. Nou wil Petr by my weet watter kar het ons gehad om die karavane mee te trek. Ek kan glad nie onthou watse kar het ons gehad voor die Fiat nie. Wel, dit sal wees na die Ranger, seker, maar voor die Fiat. Of was dit die Fiat?
Groetnis van huis tot huis
Shani
12 Desember 2010, 9:52 pm
Van: André
Hi Alger,
Ek kan wraggies nie onthou nie. Moes seker maar die Ranger gewees het. Dit was al kar wat ‘n sterk genoeg enjin gehad het om karavaan mee te sleep.
Die Fiat het ook ‘n groot enjin gehad, maar ek kan nie onthou dat ons enigiets met hom gesleep het nie.
Miskien was dit ma se Ford Prefect?
Cheerio,
André
13 Desember 2010; 7:28 vm
Van: Shani
Ag neee man, ek het nou staat gemaak op jou herinneringe.
Nouja toe Carl en Leon, nou is dit net julle wat in die bresse kan tree.
Dalk moet Leon by Ma gaan vra of sy kan onthou, of dalk moet julle deur Ma se fotos gaan kyk. Daar moet fotos wees – dit was so in die omstreke van 1962.
Groetnis
Shani
13 Desember 2010; 8:07 vm
Van: Leon
Carl se geheue oor die dinge is baie goed.
Maar ek kan net eintlik die Fiat onthou – voor dit is dinge bietjie vaag vir my.
Regards
Leon
13 Desember 2010; 9:18 vm
Van: Shani
OK, alle hoop op Carl gevestig – ‘no pressure’, soos die kinders sê.
:)
13 Desember 2010; 12:17 nm
Van: Carl
Hallo,
Ons het met die Ramblers getoer. Ons het twee gehad, so ‘n rooie en as ek reg onthou was die ander een so ‘n ligbloue. Vishoek dink ek was met die rooie, ouma Elsie was nog saam. Met die bloue het ons Rhodesië getoer. Tussen die Ramblers en Fiat het pa ‘n Valiant ook gehad vir ‘n ruk. Daar was iewers Renaults R8 en R10’s ook gewees, as ek reg onthou het pa die Renaults saam met die Fiat gehad. Die eerste Fiat was ‘n 1500 voor pa die 2300 gekry het.
Carl de Beer
13 Desember 2010; 12:42 nm
Van: André
Hi,
Ek wou sê daar was nog ‘n Valiant ook. Daardies met so ‘n vals spaarwiel op die boot.
Ek onthou die Renault R8 – so ‘n lig geletjie. Lekker gery met hom. Ooo ma hy het gesukkel om op die snelweg daai bult by Primrose/Bedfordview uit te kom. Pa het gesê, mens moet die petrolpedaal laat los en dan so stadig al dieper trap, dan trek die enjin sterker as wat mens net voet in die hoek sit. Op daai bult het ek alles getraai, kon glad nie agterkom dat dit hoegenaamd enige verskil maak nie.
‘n Renault R10 kan ek nie onthou nie. Seker maar daai keer toe pa my met die hamer oor die kop geslaan het!
Maar, Carl ek dink jy is reg met die Ramblers. Ek kon eers net die lig bloue onthou, maar nou dat jy dit noem onthou ek so vaagweg ‘n rooie ok. Onthou so dan en wan iets van die Rhodesia trippie – toe ons by Karibadam gaan staat en visvang het. Die een barber na die ander. Net hulle het dit iets anders genoem Vunju of so iets.
Groetnisse,
Andre
13 Desember 2010; 5:06 nm
Van: Leon
Sien – ek het geweet Carl sal onthou.
Regards
Leon
13 Desember 2010; 6:23 nm
Van: Shani
Ja Leon laat ons nou maar erken, jy was reg! Baie slim van jou.
Liewe Vaderland, Carl, maar jy is ‘n doring. Hoe het jy dit alles onthou? Ek het heeltemal vergeet van al daardie karre, ek het net die donkergroen Renault onthou wat ons dieselfde tyd as die grys Fiat gehad het. Ek weet nie watter nommers dit was nie, dis nou darem bietjies te veel gevra.
En nou dat jy praat van ‘n liggeel Renault, ek wonder of dit die kar was wat ek op geleer het om te bestuur? Die donkergroene was seker meer die tyd dat jy in Stellenbosch was Andre. Daar was ook nog ‘n piepklein karretjie, Renault, Citroen so iets, waarmee pa die agterpad verby Nigel gery het na die John Deere kantore. En toe het die ding mos eendag daar in die veld begin brand. Oftewel, pa het rook gesien en toe die kap voor oop gemaak en toe brand die drade, ek dink van die battery af na iets anders, maar dit loop natuurlik naby die petroltenk verby. Pa het die drade met sy kaal hande gegryp om dit uit te pluk en natuurlik met verbrande hande gesit daarna. Ek dink iemand van John Deere het hom daar kom uithelp om die karretjie uit te sleep na ‘n werkswinkel toe.
Natuurlik nog voor julle julle verstand gekry het, nog voor Parkhurst en Linden het Pa ‘n klein Ford karretjie gehad, ‘n swarte, of was dit ‘n Chev? Ma sal dit onthou. Maar daarna in Parkhurst het ons ‘n Hillman gehad en na die Hillman, ‘n reeks Humbers, ek dink 2 swartes en daarna ‘n ligbloue. Daardie Humbers en die Hillman was elke Saterdag gewas en die bande was elke Saterdag nagegaan om te kyk dat alles nog reg is en klippies en stokkies was met ‘n skroewedraaier uitgewikkel tussen die riwwe. En dan was die bande omgeruil van links agter na regs voor ensovoorts sodat dit eweredig kan afloop.
Pa in die Humber Hawk in Julesstraat Jeppe voor die ou Watkins gebou. Foto geneem deur Pa se kollega, Bill Werth, 7/5/1955
En in Linden het Ma die Ford Prefect gehad wat Andre so ligtelik na verwys. Dit het darem die Linden bult uitgekom.
Nouja, nou het ons sommer ver paaie geloop. Dankie vir die gesels. Petr het dit ook waardeer – al die karre stories.
Groete aan julle almal
Shani
13 Desember 2010; 9:44 nm
Van: André
Hi,
Kan nie daai groen Renault onthou nie. Dit was seker die R10 waarvan Carl praat.
Maar die Ford Prefect was so ‘n vaal groen regop karretjie. Het hom nog in Selcourt ook gehad. Ma het hom eendag afgeskryf toe ek en sy van die dorp af gekom het in Nigelweg op. Sy wou regs draai uit Nigelweg uit na die straat waar daai skotse meisie-hulle gebly het om links op te draai in Halkynweg. Ek’t vergeet wat was daai straat se naam en ook wat was daai skotse vriendinnetjie van jou se naam ook Shani. Die een saam met wie jy die Skotse danse gedoen het.
Anyway, Ma wou regs draai uit Nigelweg uit en toe sit sy haar indicators aan (en die armpie pop hier uit die kosyn by die deur uit en wys ewe manhaftig na regs) en toe draai sy. Ongelukkig vir ons was sy nog in die linkerkantste baan van Nigelweg se dubbelbaanpad. Draai reg voor ‘n jong windtie in wat met sy oop MGA sportmotortjie bleddie vinnig aangekom het, van agter af in die regterkantste baan.
Daai MGA side swipe ons laat die Fordjie weer in die linkerbaan is en al langs die randsteen aan opstotter asof ma nog nooit regs gedraai het nie. Die MGA – dink dit was ‘n witte – beland erg vermink op die breë middelman, met hom wielletjies so onder hom ingevou soos ‘n katjie wat homsellers daar op die middelmannetjie tuis gemaak het.
Man, had ek en ma darem vir jou stywe nekke na daai episode gehad! Vir dae! Het toe nog nie geweet mens noem dit whiplash nie. As ons daai woord geken het kon ons darem die Derdepartyfonds sue vir baie geld.
Dit was die einde van die Fordtjie gewees. Na dit was hy ter dagens sat!
Van daai dag af het ek nog altyd so ‘n MGA begeer. Sal nou nog laaik om een van daai te hê. Net nie met sy wielietjies so onder hom ingevou nie! Daai was splinternuut. Die Windtie had hom nog net ‘n week of so gehad en toes dit verby met Kees!
Ek en ma het hom darem daardie dag ‘n goeie les geleer. Moet nooit so vinnig in Nigelweg opjaag nie! Jy weet nie wanneer vlieg ‘n antie in ‘n Fordjie voor jou in nie!
Andre
14 Desember 2010; 7:11 vm
Van: Carl
André onthou die geel Renault want hy het dit Sondae middae, as pa en ma iewers gaan kuier het, uit die garage “geleen” en met die Renault gaan rond ry. Ek onthou nog dat pa-hulle eendag vroeër terug gekom het en verby André, waar hy oppad was huis toe, gery het en vir hom by die huis gewag het. Ander keer het pa aan die kar gevoel dat die enjin nog warm was.
Ek onthou die groene ook want ek het hom Sondae middae “geleen”. My nouste ontkoming was toe ek net uit die garage gekom het toe pa intrek: Die klein deurtjie van die garage was met ‘n slot gesluit waarvoor ons nie die sleutel gehad het nie, die groot deure kon net van binne oopmaak. Dus het ons een sinkplaat op die dak losgemaak deur die dak geklim die groot deure van binne af oopgemaak en dan gaan ry. As jy terug kom moes jy op pa se saag tafel klim en jou dan deur die dak weer ophys, sink plate terug sit, vas skroef en van die dak af kom (gewoonlik sommer gespring). Ek het die keer net afgespring toe stop pa voor die garage. Hy het niks gesê nie maar het baie goed geweet wat ek aangevang het. Pa het my ook toe gelaat om die groene te bestuur as ons vir Leon by die koshuis gaan haal het. Ek was nog op skool en so 16 jaar oud gewees.
Die klein karretjie wat jy van praat Shani, was ‘n Fiat 600. Pa het van hom ontslae geraak na die drade gebrand het.
Shani, ek dink jy is reg dat jy met die groen Renault leer bestuur het, op die myn paaie so entjie van die huis af.
Ek onthou die ongeluk van ma en André, daar was toe nog nie huise agter ons, tussen ons en Nigel weg, nie. Ek en Leon het agter gespeel toe ons die slag hoor, op die heining draad geklim en die ou Prefect daar skuins in Nigel weg sien staan. Ek onthou ek was baie geskok en het sommer begin huil, weet nie of dit oor ma of die karretjie was nie, beslis nie oor André nie, hy het my te veel geboelie.
Groete,
Carl de Beer
14 Desember 2010; 7:16 vm
Van: Leon
En hier het ek al die jare na julle opgesien as my mentors. Maar nou kom al die dinge uit waarvan ek nie eens geweet het nie.
Regards
Leon
14 Desember 2010; 7:43 vm
Van: Shani
Ai my hene, julle het my nou lekker laat lag. Ek het vergeet van die Fordjie se ongeluk.
Ek het niks geweet van daardie garage dak stories se klimmery nie. Dit klink darem na alteveel moeite net om by ‘n kar uit te kom, maar nou ja as die jeuk daar is dan moet mens maar seker.
Ek dink dit was die geel karretjie wat ek op geleer bestuur het want die groen karretjie was die later een en dit was daar toe ek al gewerk het, lank na ek leer bestuur het. En as Andre daardie een geleen het dan was dit seker omtrent die tyd dat ek geleer het. Op daardie plaas- en mynpaaie tussen Selcourt en Kwa Thema, ja.
Ek en onthou nog ‘n voorval van Andre en die kar lenery maar die keer dink ek dit was die groot Fiat wat hy geleen het. Dit was in sy matriek jaar dink ek, toe hy veronderstel was om te blok by die huis. Pa het die oggend saam met een van die John Deere mense in Nigelweg afgery toe kom sy kar van vooraf verby, en toe die kar verby kom besef hy dis Andre agter die stuur. Later toe Pa terug was op kantoor het hy huis toe gebel en vir Andre gesê dat as hy die kar wil leen hy dit nie sonder sy toestemming mag doen nie. Andre was heeltemal uit die veld geslaan want hy het nie geweet hoe Pa geweet het hy het die kar gebruik nie. Die aand by die huis het Pa vir my en Ma vertel terwyl Andre nie by was nie. Maar Andre het vir lang tyd gewonder oor daardie een, hoe het Pa geweet. Onthou jy daardie een Andre?
Lekker dag vir julle almal
Shani
14 Desember 2010; 11:06 nm
Van: André
Shani, jy is heeltemal reg. Dit was met pa se Fiat wat pa my so uitgevang het, nie met die Renault nie. Pa het my nogal toegelaat om met die Renault te ry.
Maar daai Fiat! Jong dit was nou vir jou ‘n lekker kragtige kar met sy 6 silinder 2.6 liter engin! Weet julle dat daai kar het met gemak 110 m.p.u. gery! En dit was baie besonders vir daardie tyd hoor! Ek weet hy kon dit doen, want ek het met hom so vinnig gery op die pad verby Dunotter se vliegveld!
En dit was waar pa my uitgevang het. Pa en die John Deere ou was op pad Nigel toe en toe kom ek netjies met die Fiat van agteraf en steek hulle verby. Ek het nie geweet dat dit pa-hulle was nie. Pa het die aand vir my gesê, of toe hy huistoe gebel het – daai stukkie kan ek nie meer so mooi onthou nie – maar ewentwil, pa het gesê ek moet nie so vinnig met sy kar ry as ek sy kar sonder sy toestemming gaps nie! Shani, soos jy sê, ek was stom van verbasing – hoe weet pa ek het met sy kar gery. En hoe het hy geweet hoe vinnig of hoe stadig ek gery het. Ek dink nie ek het pa enige antwoord gegee nie – want ek was stom van verbasing.
Dit was eers later, weet nie wanneer later nie, dat ek verneem het ek het verby pa gery toe ek hulle op die Dunotter-pad “overtake” het teen ‘n stink spoed.
Man ma daai kar het lekker gery.
Die eerste klein Fiatjie wat pa gehad het, wat so aan die brand geslaan het, was ‘n Fiat 500. Tannie Hanna – hulle het die groter ene, die 600 gehad. So ‘n donker maroon ene. Pa sin was so vuil blou met ‘n seildak wat kon oopskuif. Enjin het agter gesit soos ‘n Volkswagen Beetle sin. Net twee deure gehad en was piepklein.
Ek kan nie so mooi onthou van daai sinkplaat losmaak op die dak nie. Ek kan onthou van klim op die muur tussen ons en Dickie-hulle en dan van die muur af klim op die dak van die garage. Kan ook so effens, nou dat jy dit noem Carl, onthou van staan op pa se saag om by die dak by te kom. Maar die sinkplaat losmaak ene laat nie my klokkies lui nie!
Onthou julle die groot swart Caddilac Limousine wat pa hulle gehad het na pa en Ken Amoils van JR Watkins af weg is. Hulle het daai kar seker net omtrent ‘n maand of wat gehad en toe van hom ontslae geraak omdat hy te swaar op petrol was. Dit was ‘n tweedehandse kar wat pa hulle op een of ander manier in die hande gekry het. Ek wil my verbeel ‘n ou wat pa-hulle geld geskuld het, het die kar gegee in ruil vir sy skuld – of so iets.
Maar dit was ‘n regte Limousine met twee opslaan stoeltjies wat agter toe gekyk het na die groot bank waar minstens vier mense op kon sit. Hy het ‘n elektriese ruit gehad wat kon opskuif uit die ruglening van die voorste sitplek sodat mens privaatheid kon hê en die drywer nie kon hoor wat praat jy nie. Donker getinte vensters en beste van alles – dit was ‘n automatic!!!
Ek kan onthou dat ons kinders in die kar gesit het terwyl hy voor die agterdeur gestaan het. Of ons ooit saam in hom gery het, kan ek nie onthou nie. Dit moes gewees het in die vroeg sestigs of dalk laat vyftigs, terwyl ons nog op laerskool was.
Pa het ‘n rukkie lank met Miessies Amoils se Alfa ook gery, terwyl ons tussen karre was, dink ek. Ek het daai Alfa Guiletta nogal baie gesmaak, maar dit was nog voor my dae dat ek bestuur het – wettig of onwettig.
Nou ja, nou gaan ek bad en slaap. Julle moet algar ‘n heerlike nagrus hê en môre met ‘n wip in jul stap opvlieg en jul gaat loop afsloof vir huis en haard!
Goeienag,
André
16 Desember 2010; 8:49 vm
Van: Shani
Hene, maar die pad is lank tussen hier en Postmas, die boodskap het nou eers vannag in my posbus beland, en dit na ek my reeds klaar afgesloof het vir huis en haard. Ek het nogal gisteraand gekyk of daar nie iets is nie.
Ag ek is nou so spyt maar ek onthou nie daardie grênd limousine nie. Ek sou dit nou nogal wou onthou het. Ek was in std 3, 10 jaar oud, daardie tyd so ek moes dit darem kon onthou het. Dit het blykbaar nie so ‘n groot indruk op my gemaak nie. Dit moes nog in Linden gewees het seker. Dan kon dit nie voor die agterdeur gestaan het nie, of dink jy aan Selcourt?
Ek onhou net die maatskappy motors, of van hulle, waarmee Pa ons by Selection Park skool afgelaai het en die opslae wat dit onder die jongetjies in my klas gemaak het, dat ek elke week met ‘n nuwe kar by die skool afgelaai word. Ek het die eerste paar maal gesê dis maatskappy motors, maar daar was van hulle wat dit nie gehoor het nie, of besluit het hulle weet van beter en gedink het ons is verwant aan die diamant de Beers. En toe los ek hulle maar dat hulle so dink as hulle wil.
Ek onthou ‘n wit en rooi kar (dalk die Ranger wat in my kop vasgesteek het) waarmee Pa vir Andre toegelaat het om in die veld agter die modelvliegtuigies se vliegveld te bestuur. Ewe versigtig oor die graspolle al loerende oor die stuurwiel, om die neergeslane vliegtuigie te gaan oplaai waar hy in die grond ingeploeg het. Daai een dink ek het ons nogal lank gehad en dit moes gewees het toe ek al in hoërskool was, dalk net st 6, toe Pa begin het met die vliegtuigies. Ek het daar in die kar gesit Saterdagmiddae en die destydse Springbokradio se Top Twenty, of partymaal selfs rubgy toetse, geluister terwyl ons wag vir die vliegtuigies om hulle ter aarde te bestel. (Ek dink ons kan ‘n nuwe draad begin oor al Pa se stokperdjies)
En nog ‘n kar wat ek onthou was so ‘n roesbruine, ek dink stasiewa. Die kleur was vir my die lelikste kleur ooit vir ‘n kar, die dat dit so vasgesteek het by my, maar weer het ek g’n benul van wat se maak dit was nie.
Geniet julle daggie verder.
Shani
16 Desember 2010; 9:16 vm
Van: Shani
Net nog iets, nou dat ek weer na André se boodskap gekyk het, ja daardie groot grys Fiat het ek ook baie van gehou. Lekker baie krag gehad. Ek het een Vrydagaand (lank na ek my bestuurderslisensie gehad het darem) so ‘n tipe van ‘n ‘wheelie’ gegooi voor die kerk. Nie eintlik aspris nie, net omdat ek nie so gewoond was om die Fiat te bestuur nie, was meer die groen Renault gewoond. Daar was so ‘n halfhartige poging om die KJV wat Johan Welgemoed en Annetjie Duvenhage begin het aan die gang te hou na hulle al weg was, en ek het besluit om dit te gaan bywoon. By die kerk gekom wou ek omdraai om langs die kerk te parkeer en toe ek die U-draai so begin besef ek, ek het so bietjie te veel krag ingesit en ek wou net die kraan toedraai toe ek sien dit lok nogal aandag. Toe hou ek maar my ‘pose’ en die spoed en voltooi die draai op die agterwiele sonder om die kerk se tuinmuurtjie plat te ry, en nogal mooi te parkeer ook. Baie in my skik met myself gewees toe ek in geskokte stilte doodluiters daar kon uitklim en instap onder die oë van die res van die groep.
Op ‘n ander keer, een aand in die reën, het ek met Rita van Wyk en haar ma saam met my in die Fiat van Johannesburg af huis toe gery na ons ‘n ding in Johannesburg bygewoon het. Nogal in Parkhurst gewees, maar dit is nou ‘n heel ander lang storie. Maar die tyd het die battery of iets daar naby rond, bietjie probleme gegee sodat dit nie behoorlik gelaai het nie en dan het die ligte soms nie lekker gewerk nie. Dit was so ‘n aan-af probleem, een oomblik werk dit en die volgende keer dat jy met die kar ry werk dit nie. Nouja toe dit nou begin reën oppad huistoe en ek die ruitveërs ook moes aanskakel het ek ‘n gulde verskoning gehad om “bietjie” vinniger aan te stoot huis toe “sodat ons by die huis kan kom voor die ligte heeltemal doodgaan”. Dit was maar net op die stuk snelweg wat daardie jare nog bestaan het, nie die res van die pad nie, maar Rita en haar ma wat altwee van die baie besadigde soort is, het maar bietjie wit om die kiewe, in diep nadenkende stilte by hulle huis uitgeklim nadat hulle verstard die ligte die heel ent pad dopgehou het; maar ek het die rit geniet.
Groetnis
Shani
Ek onthou julle het ‘n blou Humber Super Snipe in Parkhurst gehad, Ek kan Tannie Calie se broers Willie en Tony ook onthou. Julle Ouma Elsie onthou ek baie beter.
http://newyorkdaybyday.blogspot.com/2013/07/my-de-beer-side-of-family.html
http://newyorkdaybyday.blogspot.com/2012/04/south-african-childhood-parkhurst.html
Ek onthou ook die Dabchick boot in Springs en die model vliegtuigies.-ook die skoorsteen wat met wit tou omgedraai was. Ek onthou ook dat elke aand na ete moes een van julle kinders ‘n toepraak lewer oor iets wat julle inteersant gevind het….Ek het meestal met jou ma in die kombuis gesels -as gas-want julle was almal was te besig met ‘n boek!
Dankie Henry, jy onthou nogal baie! :)
Tonie was my ma se broer maar Willie is ons neef, my ma se suster se seun.
Shani
Ek het al vergeet van die onderwerpe waaroor ons saans moes praat.
Nou dat jy dit noem Henry, val dit my nou weer by. Ons het baie navorsing gedoen in die Brittanica Ensiklopedie oor die onderwerpe. Van die onderwerpe wat ek van onthou was die onstaan van geld en die maak van papier. Kan egter nie onthou wie dié onderwerpe voorgehou het nie.
Hoe goed die aanbiedings van ons elkeen was, kan ek ook nie onthou nie. Shani, het ek en jy nie saam aan ‘n onderwerp gewerk nie?
Ek onthou ook ‘n gesprek oor die weer: ek onthou ons moes elke dag besluit hoe mens die wolke daardie dag beskryf, cumulus of wat ookal, en of dit gereën het, en hoeveel. Ek verbeel my ons het ‘n tipe van ‘n reënmeter in die tuin gehad? Dit was dalk die onderwerp waarvan jy onthou wat ons saam oor gepraat het.